GEORGE NUUS - Inwoners wat in die woonstelblok in Morrisstraat, agter George-polisiestasie woon, moet hare op hul tande hê. Dit is nou maar eenmaal 'n gesogte plek vir haweloses om te oornag.
"'n Mens verstaan hierdie mense se nood, maar dit is baie onhigiënies en hulle maak 'n groot gemors wanneer hulle klaar is," het een van die inwoners gesê.
"Wetstoepassingsbeamptes verwyder hulle wel, maar dit lyk soos 'n plakkerskamp hier op ons voorstoep. Dit is onaanvaarbaar."
George Herald het al meermale oor die situasie berig. Huisraad, vullis en ontlasting word op 'n gereelde basis van die sypaadjies verwyder. "Dit skep 'n veiligheids- en gesondheidsrisiko vir diegene wat in die omgewing woon," het die inwoner gesê.
Gedurende die nag van Sondag 2 Oktober is 'n groep hawelose mense verwyder, maar hulle het teruggekeer om rommel op die sypaadjie te strooi, volgens die klaer.
Oorblyfsels na 'n oornagbesoeker op die sypaadjie.
Sy sê die afgelope paar maande slaap sowat 10 mense, wat oënskynlik 'n nuwe groep is, aan en af daar. Hulle veroorsaak 'n gemors, maar wetstoepassingsbeamptes kom gewoonlik om hulle te verwyder.
"Die elektriese substasie het 'n openbare toilet geword en dit ruik ook daarna," sê sy.
Waarnemende bestuurder van wetstoepassing, Vernon Petersen, het gesê die munisipaliteit het beperkte hulpbronne om op 'n 24 uur-basis aandag te gee aan alle klagtes wat verband hou met haweloses in George.
"Na ontvangs van die klagte is daar onmiddellik aandag aan gegee, rondlopers is verwyder en die area is skoongemaak. Beamptes monitor Morrisstraat daagliks en sal voortgaan om dit te doen. Die area is weer die naweek besoek en geen haweloses was teenwoordig nie."
Die publiek word versoek om sulke voorvalle direk aan wetstoepassing by 044 8016350 en die reinigingsafdeling by 044 802 2900 aan te meld sodat die munisipaliteit kan reageer.
Oorblytassie is gepak.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'