GEORGE NUUS - Erfenisdagvieringe by die ou tolhuis in die Montagupas is Vrydag 24 September opgehelder toe Anroux Marais, Wes-Kaapse minister van sport en kultuursake, onverwags opgedaag het.
Gerda Stols, voorsitter van die Vriende van die Tolhuis, en organiseerder van die geleentheid was glad nie vooraf bewus van Marais se besoek nie. "Ek het haar onmiddellik herken en ons was aangenaam verras."
Marais was op pad Beaufort-Wes toe en het besluit om eers by die tolhuis te stop.
Dit was nie haar eerste besoek aan die tolhuis nie. Stols het Marais van die nuwe toevoegings tot die tolhuis gewys. "Sy is ons baie goedgesind en doen baie om ons te ondersteun. Dit beteken vir ons baie dat sy spesiaal 'n draai kom maak het."
Alhoewel Marais eers Vrydagmiddag opgedaag het, het verrigtinge by die tolhuis al vroeg die oggend begin en 'n karnavalatmosfeer het geheers. Die Donkiekar-boereorkes het musiek gemaak en aanwesiges het heerlik gesmul aan pannekoek, roosterkoek en koffie terwyl hulle ou veteraanmotors van naderby kon bekyk.
Een kant het Joost Pyck, 'n klipmeester wat betrokke was by die restourasie van die tolhuis, 'n demonstrasie gegee van die besondere kunsvorm. Hy het 'n spreuk, 'Werk is kos, maar kuns is lewe,' uit klip gekap.
Aanwesiges kyk hoe gee Joost Pyck 'n demonstrasie van die besondere kunsvorm. Foto: Eugene Gunning
Radio-amateurs
'n Entjie verder het die Hota-groep radio-amateurs radiokontak gehad met kollegas en vriende in ander dele van die land so ver soos Kathu in die Noord-Kaap en Orkney in Noordwes. Dit was deel van 'n program, History on the air.
Die doel daarvan is om aandag te vestig op byvoorbeeld blokhuise van die boereoorlog, begraafplase, konsentrasiekampe en ou geboue soos die tolhuis.
Vrydag se veldstasie is beman deur Danie Joubert (roepsein ZS1 DBJ), Michael Blank (roepsein ZS1 MMB) en Corné Conradie (roepsein ZSI COR). Volgens Joubert was dit 'n groot sukses en hulle het fantastiese konneksies gehad.
Die HOTA-groep radio-amateurs Vrydag by die ou tolhuis. Michael Blank (links) , Danie Joubert (met rug na kamera) en Cornè Conradie. Foto: Eugene Gunning
Maak volgende jaar weer so
Gerda Stols het gesê dit was 'n groot sukses en meer mense as verlede jaar het dit bygewoon. Dit is waarskynlik toe te skryf aan die feit dat die tolhuis nou meer bekend is. Mense wil ook graag bietjie buite ontspan in 'n gemaklike atmosfeer.
As alles volgens plan verloop sal 'n soortgelyke geleentheid weer aanstaande jaar op Erfenisdag by die tolhuis aangebied word.
Verskeie aktiwiteite word nog vir later by die tolhuis beplan. Dit sluit in musiekkonserte in die tolhuis en 'n buitelug konsert vroeg in die nuwe jaar op die terrein.
Die Hota-groep radio-amateurs Vrydag by die ou tolhuis. Danie Joubert, Michael Blank en Corné Conradie. Foto: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'