Update
GEORGE NUUS - Dinsdagmiddag, 4 Junie, is 'n man (24) in 'n ernstige toestand in die hospitaal opgeneem nadat hy na bewering kragkabels by 'n substasie in Beukesstraat, Europe, wou steel. 'n Inwoner het op die toneel aan die agterkant van Pacaltsdorp afgekom en die polisie en nooddienste gekontak.
Kapt. Malcolm Pojie, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sê die voorval word ondersoek en dat beskadiging aan infrastruktuur geensins geduld sal word nie.
"Die beskadiging van munisipale infrastruktuur het 'n direkte en negatiewe impak op die algehele veiligheid van gemeenskappe. Persone wat hieraan skuldig bevind word, sal swaar gestraf word. Swak of geen beligting bevoordeel baie keer die misdadiger, veral seksuele oortreders. Buiten dit is toegang tot elektrisiteit 'n basiese behoefte in terme van die grondwet," sê hy.
'n Span bestaande uit speurders van Pacaltsdorp, die Outeniqua K9-honde-eenheid en sigbare polisiëring het 'n soektog begin na nog persone van die Syferfontein-gemeenskap wat vermoedelik by die voorval betrokke was. "Ons het rede om te glo dat nog persone betrokke kon wees en beseer is," sê Pojie.
Enige persoon met inligting word versoek om ao. William van Scalkwyk by 044 803 9100 of Stop Misdaad by 08600 10111, te kontak.
Nooddienste op die toneel Dinsdagmiddag.
Lees 'n vorige artikel: Man skok terwyl hy glo kabels wil steel
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'