GEORGE NUUS - 'n Unieke man wat 'n blywende indruk gemaak het op almal wat bevoorreg genoeg was om sy pad te kruis, dr. Matthys Strydom, is Woensdag 1 Junie in die ouderdom van 87 oorlede.
Matthys het in George gesterf na hy vroeg in Mei 'n beroerte tydens 'n sake- en familiebesoek in die Kaap gehad het.
Matthys, die stigter-eienaar van die oud-Strydom Galery, was 'n skatkis van kennis en sy dood laat 'n reuseleemte, nie net in Suid-Afrika se kunsgemeenskap nie, maar internasionaal waar hy diep spore in beide die kuns- en bonsmara-wêreld getrap het, sy ander groot liefde.
Matthys, een van vier kinders, is op 20 Maart 1935 in Oudtshoorn, waar sy pa 'n meubelmaker was, gebore.
Die onderneming het later na George uitgebrei waar Matthys in 1952 by Hoërskool Outeniqua gematrikuleer het.
Hierna is hy na Ikeys in Kaapstad om medies te studeer en het daar sy vrou, Helene Röll, 'n argitektuurstudent, ontmoet.
Mense se dokter
Na sy studies en troue word hy 'n vennoot in 'n algemene praktyk in Heidelberg in Gauteng. Tipies Strydom het hy alles ingesit om net die beste vir sy pasiënte te gee en het hom gehaas na die bed van 'n sieke - dag en nag.
Hy het vertel dat hy sy vrou en vier seuns in die tyd erg afgeskeep het. Dit het hom genoop om 'n waardebesluit te neem en na agt jaar as dokter het Matthys sy pa se meubelonderneming in Markstraat in George gekoop.
Nie dat sy vrou en seuns toe 'n "huispa" gekry het nie! Sy seun Marius vertel 'n staaltjie wat Matthys se werksetiek perfek vergestalt.
"Pa het die Vrydagmiddag van Kersnaweek die praktyk se deur in Heidelberg agter hom toegetrek, ons gesin met katte en honde in die kar gelaai en Maandagoggend die meubelwinkel in George se deur oopgesluit en begin werk."
Strydom Galery
Die meubelonderneming is in 1969 uitgebrei om ook kunswerke in te sluit en Matthys het Suid-Afrika deurkruis om werke waarvan hy en ook Helene self gehou het, by die kunstenaars self uit te kies.
Elke Desember en Januarie het hy in medewerking met die kunstige Helene 'n uitstalling gehou. Die uitstalling het vinnig naam gemaak en kort voor lank was meubels nie eers meer 'n bysaak nie en is Strydom Galery gebore.
Matthys het vertel dat hy baie van die kuns in sy eie merkwaardige kunsversameling bekom het deur te wag (en te hoop) dat voornemende kopers en besoekers aan die galery dit nie koop nie.
Beslis nie 'n goeie sakestrategie nie, maar dan het Matthys nooit iets primêr vir geld gedoen nie, maar omdat dit sy passie was.
Jy moes nooit as hy jou sy versameling gewys het verwys na die geldwaarde nie - hy het hom bloediglik vererg. "Mens doen nie iets vir geld nie, jy volg jou passie." Tussen die lyne kon mens lees: "Dan sal die geld kom, maar natuurlik met die nodige talent en harde werk."
Na 40 jaar het Matthys se jongste broer, professor Leon Strydom, die galery oorgeneem. Hy het dit op sy beurt later verkoop, maar die nuwe eienaars het die deure gesluit en is die kuns-en kultuurvoetspoor van George 'n geweldige knou toegedien. Die einde van 'n era.
Koerantman, skrywer, boer...
Matthys was vroeër ook vir sowat twee jaar die redakteur en mede-eienaar van die Het Suid-Western, die voorloper van die Mosselbaai Advertiser. Hy het die stories uitgesnuffel, geskryf, foto's geneem en die uitleg gedoen. Dit alles in sy spaartyd wat meesal in die nag was.
Matthys het verskeie kunsboeke die lig laat sien waaronder twee wonderlike outobio-grafiese boeke oor sy wedervaringe in die kunswêreld, kunswerke en ontmoetings en vriendskappe met kunstenaars - Stories teen my muur en verlede jaar Nog stories teen my muur.
Maar Matthys was ook 'n natuurliefhebber en boer. Hy het Bosplaas op die Sewepassepad by Wilderness gekoop en vinnig ontdek bonsmara-beeste is sy passie, al het ander boere gesê die klimaat is nie reg nie en sy plaas te klein.
Dit was heel moontlik waar, maar Matthys het gou een van die beste bonsmara-stoete opgebou en boere het van oral gekom vir sy raad en om bulle te koop. As hoof van die Bonsmaravereniging se Wêreldraad het hy die ras wêreldwyd uitgebou.
Taal en kultuur
Hy was intens lief vir sy moedertaal en het 'n kleintjie dood gehad aan Afrikaanssprekendes wat te lui was om hul eie taal goed te praat.
Matthys was een van die weinige mense wat in 'n restaurant sy biefstuk "mediumgaar tot rou" bestel het en dan het hy gemor omdat dit nie bonsmara-vleis was nie.
Hy het ook destyds 'n hand daarin gehad om die kerkie in Markstraat te omskep in 'n teater en sangers soos Laurika Rauch na George gebring om op te tree toe hulle nog aan die begin van hulle luisterryke loopbane gestaan het.
Carpe diem
Marius sê hy en sy broers sal hulle pa onthou as 'n ongelooflik veelsydige mens, wat die lewe met albei hande aangegryp het.
"Sy liefde vir kuns, die natuur, die stilte op Bosplaas, die bonsmara-boerdery, Afrikaans en vele ander belangstellings, het hy met sorg en (soms, vir 'n jong seun) amper pynlike deeglikheid aangepak en ten volle uitgeleef.
"Sy baie vriende uit soveel uiteenlopende velde, en familie, getuig van 'n baie sosiale mens, hoewel gerieflik om sy eie, unieke rigting in te slaan. Oneindig inspirerend. 'n Baanbreker."
Matthys was tot en met sy beroerte 'n aktiewe en gesonde man wat daagliks geoefen het en elke tweede dag, dwarsdeur die winter, vroegoggend geswem het.
Hy word oorleef deur sy vrou Helene; sy seuns Johan, Ludwig, Thys en Marius; sy kleinkinders Rual, Ranah, Monique-Ann, Nicole-Ann en Milan; sy broer Serf en suster Retha Smit.
Sy jongste broer, Leon, is gedurende die Covid-inperkingstyd oorlede.
Diens
Matthys se gedenkdiens is in Shofar Church, 4 Commercial Close, Le Vallia in George op Saterdag 18 Junie, om 13:30 vir 14:00. RSVP tot en met 16 Junie via WhatsApp by Matthys se skoondogter, Noline Strydom by 071 153 2885.
Die diens word gestroom en die skakel sal nader aan die tyd op www.georgeherald.com gedeel word.
Wyle Matthys Strydom Foto: Johan Strydom
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'