GEORGE NUUS - George-kunstenaar Marita Bezuidenhout, wat onder die naam Sophia Seegers skilder, het vyf baie besonderse skilderye wat vir vier jaar op stoor gestaan het, onlangs uitgehaal om met George Herald te deel.
Met dié sonderlinge skilderye, onder die kollektiewe naam The Big Five of Africa, het sy die verskillende fases van Nelson Mandela se werk en lewe op doek vasgevang.
Sy het in 2010 daarmee begin met die gedagte om een skildery te doen. Die proses het egter 'n lewe van sy eie aangeneem en die uiteinde was vyf treffende skilderye van 1,2 m x 1,4 m.
Sy gebruik die simboliek van die leeu, buffel, renoster, luiperd en olifant om Mandela se karakter en lewe weer te gee.
Die groot vyf
Die eerste skildery, getiteld Lion of Africa, is 'n houtskoolprofiel van Mandela wat omring word deur vier profiele van hom, almal in verskillende mediums en op verskillende stadiums van sy lewe.
"Ek het die naam Lion gekies omdat daar na hom verwys is as 'King of Africa'. Die verskillende mediums simboliseer ons reënboognasie."
Buffalo of Africa gaan oor sy erfenis in die grasvelde van Qunu waar hy grootgeword het. Die skildery toon die landskap, die nederige hut waar hy gebore is, die presidensiële Nkandla, en 'n uitkyktoring wat verwys na Robbeneiland.
"Die naam Buffalo is simbolies deurdat 'n buffel 'n rustige dier is tot hy uitgelok word. As leier sal hy sy trop beskerm en selfs sy eie lewe in gevaar stel," sê Bezuidenhout.
Buffalo of Africa
Die derde skildery, Rhino of Africa, het sy gemaak ná Madiba se dood in 2013 en fokus op sy stryd vir vryheid en geregtigheid.
"Sy uitgestrekte hand in die skildery simboliseer die gesogte horing van die renoster, net so kosbaar soos wat vryheid en gelykheid vir hom was. Die renoster is 'n ikoniese dier en die wêreld beskou Madiba as 'n ikoon."
Rhino of Africa
Leopard of Africa versinnebeeld die chaos en verwoesting van sy gevangenskap.
"Die luiperd is 'n bedreigde spesie en moet 'n stryd voer om te oorleef in gevangenskap. In hierdie werk is ook een van Nelson se 25 skilderye wat hy gedurende sy gevangenskap voltooi het. Die ouer Mandela kyk deur die tralies terwyl hy oor sy lewe en beproewings peins. Een van die foto's wat in die skildery gebruik word, is 'n oorspronklike foto van hom en my man, Peter, wat by die Nelspruit-lughawe geneem is."
Leopard of Africa
In Elephant of Africa, wat die reeks afsluit, word Mandela se liefde vir sy familie, vriende, sy land en sy mense gesimboliseer.
Sy uitgestrekte arms simboliseer nie net die olifant se ore nie, maar ook sy wye en omarmende liefde, vergewensgesindheid, passie en die vrede waarvoor hy gestaan het en wat van hom 'n ikoon gemaak het.
Natuurlike vloei
"Ná die voltooiing van die Big Five het ek besef dit was 'n werk waarvoor die opdrag van myself af gekom het, en ook dat dit 'n eenmalige werk was wat ek nooit weer sou herhaal nie. Dit was 'n natuurlike vloei van die eerste skildery tot die laaste, en ná die vyfde een, was die storie klaar. Ek was tevrede dat die reeks voltooi is. Dit was 'n uiters leersame proses om sy kleurvolle, maar eenvoudige lewe te ontdek en ook vir my 'n lewensles."
Elephant of Africa is nog nie voltooi nie, sê Marita Bezuidenhout.
Bezuidenhout is 'n deeltydse kunsonderwyseres met 'n passie om ander te leer skilder. Deesdae skilder sy om 'n dieper, geestelike boodskap van hoop oor te dra. Sy gebruik onder meer 'n tegniek met verf wat in die donker gloei sodat die skildery wat die kyker in daglig sien, 'n bedekte boodskap het wat slegs openbaar word wanneer dit stikdonker is.
"Dis simbolies van die Here se lig wat deurbreek in ons donkerste tye."
Voorheen terwyl sy op Richardsbaai skoolgehou het, het sy baie agtergrondskilderye op materiaal vir funksies en opvoerings geverf. Die langste een is 120 m x 4,5 m. Haar hande jeuk om weer 'n so 'n groot projek aan te pak.
"Ek is op soek na 'n massiewe buitemuur om te verf. Iets soos 'n silo of woonstelblok. Ek het al vreeslik baie muurskilderye gedoen, maar nog nooit 'n silo of woonstelgebou se buitekant nie."
Haar man, Peter, 'n lugruimbeheerder by George-lughawe, ondersteun haar heelhartig in haar kuns. Die egpaar het saam sewe kinders grootgemaak - drie uit haar vorige huwelik en vier uit Peter se vorige huwelik.
Marita en haar man, Peter Bezuidenhout, 'n lugruimbeheerder by George-lughawe. Foto verskaf
Marita Bezuidenhout en haar man, Peter, met haar skildery 'I lift my eyes up'. Dit het 'n Christelike geestelike boodskap. In die donker kan die kyker sien hoe trane oor die vrou se wang afloop en op 'n saadjie val. Dit is alles aangebring met verf wat in die donker gloei. Die boodskap is dat daar in die donkerste tye ook hoop is, en uit haar trane word nuwe lewe gebore. Foto: Alida de Beer
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'