GEORGE NUUS - Van 3 November tot 3 Desember word Gestremdheidsregtemaand gedenk met die doel om meer bewustheid te skep van die spesiale behoeftes van mense met gestremdheid. Die tema vanjaar is 'Bemagtig mense met gestremdheid deur kreatiewe, volhoubare en veilige omgewings.'
Volgens 'n indiepte-verslag van Statistieke Suid-Afrika oor mense met gestremdheid, is die nasionale gestremdheidskoers 7,5% van die bevolking.
Dit kom meer voor onder vroue as mans - onderskeidelik 8,3% en 6,5%. Soos mense ouer word, neem gestremdheid toe - meer as die helfte (53,2%) van mense van 85 jaar en ouer het 'n gestremdheid.
Elzeth Grobler, hoof van Carpe Diem skool vir kinders met spesiale behoeftes, sê terwyl die meeste van ons nie twee maal dink om gou êrens heen te gaan, trappe te klim of gou toilet toe te gaan nie, ervaar mense met gestremdheid groot uitdagings net om by basiese geriewe en dienste uit te kom weens fisiese uitdagings.
"Dis eers as 'n mens self siek of beseer word en jou mobiliteit aangetas word dat jy besef watter enorme uitdaging dit is vir mense in rolstoele en met looptoestelle om werkbaar en effektief in die wêreld buite hul huis te kan beweeg.
"Wanneer publieke areas, besighede se ingange, hoë toonbanke, skole en basiese toiletgeriewe nog nie toeganklik gemaak is nie, lei dit tot uiterste frustrasie en word mense se leefwêreld geweldig ingeperk."
Marali Olën, 'n plaaslike fisioterapeut, sê toeganklikheid strek verder as opritte, handrelings en hysers. Mense moet hulleself ook afvra:
- Is daar 'n tolk beskikbaar vir dowes;
- Is daar 'n moontlikheid vir 'n ma met 'n outistiese kind om dalk vinniger gehelp te word by klinieke en hospitale of besighede;
- Is daar in die toiletfasiliteite 'n plek waar groter fisiek gestremde kinders se doeke geruil kan word of moet die ma dit op die grond doen;
- Maak verkeersligte 'n geluid vir blindes om te weet of hulle moet wag of loop;
- Weet besighede hoe om 'n persoon met 'n intellektuele gestremdheid wat in hul diens is, te help om steeds sy take te kan verrig - hoe word take vereenvoudig - baie soos wat die Ukuwela-werksafrigters besighede in oplei;
- Is daar 'n flitsende lig vir dowes om hul attent te maak op ontruiming of gevaar?
Die Wes-Kaapse minister van maatskaplike ontwikkeling, Sharna Fernandez, het verlede week in 'n mediaverklaring gesê die behoeftes van persone met gestremdheid moet in ag geneem word in elke stadium van die beplanning en implementering van projekte en programme van die regering, privaat sektor en die gemeenskap.
Toeganklikheid tot dienste en ontwikkelings- en werksgeleenthede is die sleutel tot die welstand en menswaardigheid van hierdie persone.
"Ons moet plek maak vir die insluiting van persone met gestremdheid se bydraes, nie alleen tot sake rakende gestremdheid nie, maar ook in ons dag-tot-dag aktiwiteite," het Fernandez gesê.
Wes-Kaapse minister van maatskaplike ontwikkeling Sharna Fernandez.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'