GEORGE NUUS - 'n Ma van George is steeds onseker oor waar haar dowe dogter, Erica van der Merwe (22), ook van George, haar bevind nadat sy haar Vrydagoggend, 29 April, as vermis by die polisie aangemeld het.
Saterdag is inligting ontvang wat daarop gedui het dat sy vermoedelik per bus op pad was na Durban.
Volgens haar ma, Daleen, het sy WhatsApp-boodskappe van Erica se foon af ontvang om te sê sy is veilig in Durban. Sy het weggeloop om by haar kêrel te wees.
Van der Merwe het haar dogter se foto Saterdag op Georgiete Staan Saam se Facebook-blad geplaas in die hoop dat iemand haar gewaar het. Die Texas Grill Restaurant het haar in reaksie daarop gekontak om te sê dat sy wel in die restaurant gesien is.
"Ons het op 'n opname van 'n sekerheidskamera gesien dat sy by Texas Grill uitstap saam met 'n vrou wat haar daar kom soek het. Of sy 'n bus gehaal het of nie, kan ek nie vir seker sê nie. Ek kon dit nie bevestig nie," het Van der Merwe gesê.
"Haar kêrel se ma het Vrydagaand al gesê sy was op 'n bus. Sy het Sondagoggend blykbaar eers daar aangekom en haar kêrel se ma het haar by die bushalte gaan haal."
Teen saktyd Woensdag het Van der Merwe egter gesê hulle is steeds nie seker of Erica wel by die beweerde bestemming aangekom het nie. Die polisie is nog besig met hulle ondersoek.
Die Suid-Kaapse polisie-woordvoerder, sers. Chris Spies, het by navraag gesê: "Die ondersoekbeampte was in kontak met die ma van die vermiste persoon. Inligting wat met die polisie gedeel word, kan nie op hierdie stadium bekendgemaak word nie weens die sensitiewe aard van die saak."
Van der Merwe het die naweek aan George Herald gesê: "Dit is baie, baie stresvol. Moet asseblief nie ouers blameer vir kinders se optrede nie. Jy kan jou kind leer wat jy wil, hulle doen soos hulle dink goed is. Die boodskappies wat ek gekry het, sê sy is oukei, sy is jammer sy het weggeloop, maar sy wil graag by haar vriend wees. Ek as ma se hande is afgekap. Dis vir my bitter, bitter hartseer. Ek kan nie slaap in die nag nie. Ek dink nie ek gaan ooit slaap voordat ek haar weer in my arms vashou nie."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'