GEORGE NUUS - Koningin van die verhoog, Lizz Mering, bring twee aande van vermaak na die George-kunsteteater in die tweede week van Augustus.
Op Vrouedag, 9 Augustus om 11:00, bied Meiring haar produksie, Een keer 'n week is genoeg, gevolg deur 'n vrouetee.
Dit waarna die titel verwys, het egter nie veel met teedrink te make nie. Die opbrengs van hierdie bederfdag vir vroue en tieners bo die ouderdom van veertien jaar, word aan die dierewelsynsorganisasie Odin geskenk. Kaartjies kos R220 en is beskikbaar deur Computicket.
Dié produksie is ‘n satiriese, slimsnaakse solostuk oor die geskiedenis van hoe mans oor vroue dink. Die draaiboek is gebaseer op 'n ware mediese en sosiale gids aan mans, geskryf deur medici vir pasgetroudes in die Victoriaanse era (1837 tot 1901).
Luidens die handleiding is 'n vrou se brein fisies kleiner as die van 'n man en kan dit maklik ontplof as sy 'n orgasme bereik. Dit is dus nie aanbevole om aan haar seksuele vreugde te verskaf nie. Vroue en dogters moet liefs nie fietsry, of oesters en kabeljou eet nie, want dit kan hulle seksueel opgewonde maak.
Verder moet 'n vrou se lag herinner aan 'n klein, fyn klokkie. 'n Harde gelag dui glo op 'n geestesversteuring.
Van die rak af
Meiring skop die tweede week in Augustus af met haar vertoning Off the shelf / Van die rak af. Hierdie produksie geskied op Dinsdag 8 Augustus om 20:00, en is 'n tweetalige vertoning wat die gehoor die geleentheid gee om ses karakters te kies wie se lewens vir hulle interessant klink. Kaartjies kos R160 en is beskikbaar by Computicket.
Die verhoogproduksie is gebaseer op 'n konsep wat 'n paar jaar gelede in Skandinawië ontstaan het, genaamd "die menslike biblioteek".
Die doel van die inisiatief is vir mense om mekaar beter te verstaan. Die gesegde lui, "loop 'n myl in iemand anders se skoene".
Die praktiese toepassing is eenvoudig: in plaas daarvan om 'n boek uit te haal, haal jy 'n mens uit. Hierdie persoon (dikwels 'n omstrede of gemarginaliseerde figuur) vertel jou, die gehoor, sy of haar storie. Eerlik en sonder voorgee.
Voor die aanvang van elke optrede ontvang die gehoor 'n "stembrief / biblioteekkaart" met kriptiese leidrade. Die gehoor kies dan watter karakter hulle vir daardie spesifieke optrede op die verhoog wil sien.
Lizz Meiring
Lizz Meiring
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’