GEORGE NUUS - Mense moes saam met Julius Malema gaan stap het tydens sy onlangse landwye protesoptogte. Dit waarvoor hy hom beywer het, om die land tot stilstand te bring, is waaroor mense ongelukkig is. Dit is dinge soos korrupsie en werkloosheid.
Só het Johan Vorster, hoof- uitvoerende beampte van Clover, Maandag 27 Maart gesê tydens 'n geleentheid by Fancourt wat deur verskeie bekende landbou- en sakeleiers in die streek bygewoon is.
Vorster het in sy toespraak geen doekies omgedraai nie en aangedui hoe hy die politieke situasie sien.
Volgens Vorster stel hy regtig belang in mense en volg hy die politiek en nuus. Die veerkragtigheid van die Afrikaner-sakeman het al met die Groot Trek begin. Daar was destyds geen staatshulp of subsidies nie.
Sy vraag was, "Wat is die atmosfeer waarin Suid-Afrika hom vandag bevind?"
Hy het gesê as jy nommer een wil bly gaan jy een of ander tyd in die kryt moet klim. Pres. Cyril Ramaphosa was destyds baie goed in die vakbondwese, maar op die oomblik wil hy nie in die kryt klim en baklei nie. Dit maak dit baie moeilik vir sakelui om die pad vorentoe toe te sien.
Dit is gesien met die onlangse aankondiging van die kabinet. Daar was 'n slakkepas en die indruk was dat hy (Ramaphosa) nie 'n besluit wil neem nie. Toe die kabinet uiteindelik aangekondig is, was hy net soos pres. PW Botha wat destyds nie die Rubicon wou oorsteek nie.
As daar na Ramaphosa se staatsrede met die opening van die parlement gekyk word, skep dit hoop en hy het so mooi gepraat. As daar egter dieper gekyk word, besef mens dis nie hoop nie, mense sit eerder op die ashoop.
Vorster het gesê solank mense die uitkyk het dat die regering en stadsrade alles gaan doen en dat hulle niks self hoef te doen nie, gaan niks gebeur nie.
Hy het benadruk een persoon kan 'n baie groot verskil maak in haar/sy gemeenskap.
Hy sien ongelukkig nog dat rassisme steeds te veel lig kry in Suid-Afrika en die wêreld. Ongelukkig is dit nog 'n swart/wit storie. Mense moet begin dink hoe hulle saam kan veg teen korrupsie.
Aan die positiewe kant het Vorster gesê is daar mense in die regering wat besef hulle kan nie alles self doen nie. Hulle besef hulle het die sakegemeenskap nodig. Nog aan die positiewe kant is die onafhanklikheid van die Reserwebank en die land se regstelsel.
Wat hom betref gaan die landskap in die toekoms bepaal word deur koalisies. In die stadium lyk dit nie of die land reg is daarvoor nie.
Suid-Afrika het ook van die beste boere in die wêreld. Die boere speel 'n enorme rol in die voeding van Suid-Afrika en hulle rol moenie onderskat word nie.
Aanwesiges by Maandag se geleentheid by Fancourt. Foto's: Eugene Gunning
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’