GEORGE NUUSFLITS - ‘n 17-jarige leerder van PW Botha Kollege in George is Vrydag (13 Oktober) oorlede nadat hy op ‘n skooluitstappie beseer is.
Die seun, ‘n gr. 11-leerder, was deel van die skool se leerderraad wat op ‘n leierskapkamp by ‘n oord tussen Oudtshoorn en Uniondale was.
Na wat verneem word het die seun op ‘n klip gegly en in water beland.
Hy is in ‘n kritieke toestand na die hospitaal geneem waar hy later gesterf het.
Die res van die groep het onmiddellik na die voorval teruggekeer na George.
Kaptein Malcolm Pojie die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder het die voorval bevestig en gesê ‘n geregtelike doodsondersoek word gedoen.
Maatskaplike werkers en sielkundiges van die plaaslike onderwyskantoor het berading aan die leerders, wat erg deur die voorval getraumatiseer is, verskaf.
Geen verdere besonderhede oor die voorval is bekend nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'