GEORGE NUUS - Ouers moet hul kinders toelaat om in die natuur te stap, dit is nie net baie goeie terapie vir die liggaam en gees nie, dit breek ook die siklus van rekenaarspeletjies.
Dit is die wekroep van Hester Stander, die stigter van 'n stapgroep, Hike With Your Heart. Dit bestaan al meer as 'n jaar en is 'n gratis stapgroep vir mense wat 'n liefde het vir die natuur.
Sy moedig nou veral jong mense aan om betrokke te raak.
Stander het 'n onlangse ervaring, wat die belangrikheid van stap vir jongmense illustreer, met George Herald gedeel.
Sy het vertel dat Billy Snyman haar in Mei gekontak het. Hy wou weet of sy vyfjarige seun Jandré Snyman saam kan stap na Vandalensgrot en -piek. Vandalenspiek is 12,23 km en 1,165 m bo seespieël.
"My eerste reaksie was ek wil geen kind breek nie. Ek het my les geleer met my eie kinders. Die oggend van 29 Mei kontak Billy my weer en noem dat hy nie 'n kinderop-passer kon vind nie en of dit in orde sal wees as hy Jandré kan saambring. Hy sou meer as bereid wees om, om te draai waar nodig.
"Hike With Your Heart is 'n groep wat niemand wegwys nie, ons werk altyd rondom die stappers. Daar is altyd 'n sweeper. As die sweeper moet omdraai dan doen ons dit. Ons los niemand agter nie. In my agterkop het ek geweet Jandré het die vermoë om dit te kan doen. Kleine Jandré het al vantevore 'n roete saam met my gedoen."
Jandré het uiteindelik Vandalensgrot en -piek gehaal. "Aanmoediging was hier en daar bietjie nodig. Die beste aanmoediging was om speletjies te speel.
"Kinders hou van speletjies - so trek jy hulle aandag af. Jandré het 'n groot liefde vir wiskunde, dus was die speletjies maklik, ons tel tien treë af dan stop ons en haal lekker diep asem en dan vat ons die volgende tien treë en haal weer lekker diep asem. Ons het ook in twees begin tel.
"Ek kan nie dink dat ek al 'n kind van vyf jaar teëgekom het wat so goed in sy wiskunde is nie. Die grot was vir hom 'n groot ervaring."
Die hoogtepunt vir Jandré was toe hy sy eie naam in die boek kon skryf.
Drie van die stappers het agtergebly in die grot terwyl die res van die groep op is na Vandalenspiek.
"Ek het Jandré genader om te hoor of hy by ons wil bly. Nee, was sy onmiddellike antwoord, hy gaan saam. 'n Warm gevoel het in my hart kom lê. Jandré is 'n klein mensie met baie wilskrag. Almal van Hike With Your Heart is baie trots op hom."
Stander het gesê sy wil ouers aanmoedig om hul kinders te laat stap, as hy/sy geen belangstelling in enige sport het nie. Stap is goeie terapie, hegte vriendskappe word gevorm. Dit sal hulle ook in staat stel om beter in hul skoolwerk te vaar.
Jandré Snyman (5) tydens die staptog.
Die groep stappers wat aan die staptog deelgeneem het.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'