GEORGE NUUS - Inwoners en belanghebbendes word genooi om 'n openbare vergadering op 9 Maart by te woon waar die Pacaltsdorp Erfenisinventaris bespreek sal word. Dit is deel van 'n openbare deelname proses en vind om 18:00 in die Pacaltsdorp-gemeenskapsaal in Missionstraat plaas.
Dit het 'n lang aanloop. Luidens 'n mediaverklaring van die George Erfenistrust, wat Maandag uitgereik is, het die instansie in 2019 die inisiatief geneem om in terme van die Wet op Nasionale Erfenishulpbronne van 1999 'n erfenisinventaris van Pacaltsdorp saam te stel.
Dit is ten einde bestaande erfenishulpbronne te beskerm en die erfenis van die gebied te bewaar.
By 'n werksessie in November 2019 het die lede van die inventarisspan (Henry Paine, Kathy Schultz, Lita Webley, Marlize du Bruyn en Patrick Sambo) kennisgemaak met die wetlike raamwerk vir so 'n inventaris en die metodologie van erfenisinventarisse.
Kort na die begin van werksaam-hede het die Covid-19-pandemie ongelukkig uitgebreek en werksaamhede van die span in die wiele gery.
'n Openbare deelname vergadering met die gemeenskap van Pacaltsdorp wat beplan is vir Maart 2020 moes afgestel word.
Gedurende die Covid-tyd van 2020 en 2021 het die span voortge-gaan met hul werk en het hulle die geskiedenis van Pacaltsdorp nagevors. In dié verband het Blanche Benjamin en lede van die Gwaiing Aksiegroep baie gehelp met argeologiese en ander navorsing.
Eugenie Marincowitz het geboue met argitektoniese waarde geïdentifiseer en beskryf. Die span het onder meer die oorspronklike opmetingsdiagramme van 1857 en ander primêre bronne oor die historiese kern van die dorp geraadpleeg en meer resente werke van argitekte in Pacaltsdorp ingewerk.
'n Konsepdokument is voltooi en aan die George Erfenistrust oorhandig.
Hierdie konsepdokument sal in Maart by die openbare vergadering aan die gemeenskap van Pacaltsdorp vir kommentaar en bydraes voorgelê word. Patrick Sambo is ongelukkig nie meer beskikbaar om te help met die openbare deelname proses nie, maar Melanie Martins het by die span aangesluit en sal daarmee behulpsaam wees.
Henry Paine, voorsitter van die trust, het gesê daar word gehoop om meer inligting by die inventaris te voeg soos dit beskikbaar word.
Al betaal die George Erfenistrust vir die dokument, is dit openbare eiendom. Dit sal aan die mense van Pacaltsdorp behoort. Die George-munisipaliteit steun die openbare deelname proses.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'