GEORGE NUUS - Dis vir George Herald 'n groot plesier dat ons artikels en advertensies ons gemeenskap help opbou.
Net een voorbeeld hiervan is die Kingswood Vroue wat Omgee se opvoedingsprojek wat die aandag getrek het nadat 'n artikel in die koerant en op georgeherald.com verskyn het.
Die groep vroue het die projek begin vir kinders van gesinne wat in die sogenaamde 'Hoenderhokke' op 'n plaas in Hansmoeskraal woon.
Benewens etes wat die vroue drie keer per week verskaf, het hulle ook met die hulp van twee vrywilliger-onderwysers 'n speelskooltjie op die plaas begin.
Die artikel het lesers duidelik geraak en baie reaksie uitgelok. Verlede week het Annamarie Barnard aangebied om teddiebeertjies vir die 12 kinders te brei en vandeesweek het nog 'n leser, Charles Snyders, laat weet hy wil graag 'n opvoedkundige bydrae lewer.
Maryna Kimble, wat aan die stuur staan van Kingswood Vroue wat Omgee, het gesê hulle is baie dankbaar vir die hande van hulp wat uitgesteek word.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'