GEORGE NUUS - Die kundigheid en ervaring van 'n klipkapper, Joost Pyck, gaan nie verlore gaan nie. Pyck (67) is betrokke by die vestiging van 'n nuwe klipkap-akademie.
Dit het Saterdag 14 Mei aan die lig gekom tydens 'n geleentheid by die historiese tolhuis in die Montagupas waar sy twee boeke, Wat de Joost! Sprokkels uit Suid-Afrika en Elfenbein in Suid-Afrika bekendgestel is.
Sover bekend is Pyck een van min mense in Suid-Afrika wat die beroep beoefen, waarna sommige verwys as 'n klipmeester.
Hy kom oorspronklik van België en het in in 1993 na Suid-Afrika gekom. Sy ouers is Wes-Vlaminge.
Die handewerk van Pyck is hier in die Tuinroete te sien. In die verlede het hy onder meer gehelp met die klipwerk tydens die restourasie van die tolhuis. Die tolhuis is meer as 170 jaar oud en een van George se mees historiese geboue.
Dit is erg beskadig tydens die brande van 2018.
Hy is ook verantwoordelik vir 'n miniatuur tolhuis, wat by die tolhuis staan. By die model is inligting met braille aangebring.
Pyck het Saterdag gesê die klipkap-akademie gaan in samewerking met 'n sakeman van Oudtshoorn gevestig word. Meer besonderhede sal later bekendgemaak word.
In Europa is derduisende klipkapers, maar in Suid-Afrika weet hy net van nog een en dié kom ook uit die buiteland. Volgens hom is dit 'n beroep wat besig is om uit te sterf en 'n baie skaars beroep in Suid-Afrika.
Hy wil graag sy kennis aan jongmense oordra - nie net die praktiese kennis nie, maar ook die teorie. "As ek eendag lepel in die dak steek, is my kennis weg. Ek wil hê dat die kennis oor die professie moet bly voortbestaan."
Op die vraag wat die moeilikste is, skryf of klipwerk, het hy geantwoord dis 'n moeilike vraag.
Klipkap is buite en dis fisies harde werk. Met skryf sit jy op 'n stoel en jy kan dit enige plek doen. Solank die persoon net pen en papier het. Skryf is vir hom 'n stokperdjie.
Sy skrywery het so agt jaar gelede begin. Hy was in daardie stadium besig met restourasiewerk aan die ou tronk in Victoria-Wes wat van klip gebou is. Saans en naweke was hy verveeld en het toe begin skryf.
Wat de Joost!, is kortverhale en Elfenbein is 'n misdaadroman wat grotendeels in Namibië afspeel. Hy geniet die skrywery en 'n derde manuskrip is reeds voltooi. Dis 'n opvolg op Wat de Joost! en sal later gepubliseer word.
Joost Pyck Saterdag met die bekendstelling van sy boeke by die tolhuis. Regs is 'n miniatuur model van die tolhuis. Hy het die model uit klip gekap.
Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'