GEORGE NUUSFLITS - Carina Beukes, die mede-vervaardiger van die Klikkerland-reeks, is verheug oor die twee benoemings vir die 2018 Ghoema-toekennings in die afdeling - Beste kinder DVD of album wat hulle ontvang het.
Die George-kindervermaaklikheidsgroep is opgewonde oor die benoeming van hul Klikkerland Volume 4 DVD en hul album genaamd Die Liedjies wat ons sing Klikkerland Musiek.
Die twee benoemings vir die Klikkerland-reeks is tussen die vyf wat meeding om as wenners op Sondag 29 April aangekondig te word.
Die opgewonde span Klikkerlanders vra dat hul ondersteuners vir hulle sal duim vashou op Sondag 29 April wanneer die wenners aangekondig sal word tydens ‘n gala-geleentheid by Emperors Palace se Theatre of Marcellus in Johannesburg. Die geleentheid word vir die tweede jaar regstreeks op kykNET DStv-kanaal 144 uitgesaai op Sondag 29 April.
Die Afrikaanse musiekbedryf het in die afgelope dekade ’n reuse gedaanteverwisseling ondergaan en op alle vlakke kompeteer SA met die internasionale mark wat klank betref, produksiewaarde en die wyse waarop ons vertonings en musiek-extravaganza’s aanbied.
Vir die afgelope ses jaar kraai die Ghoema-musiektoekennings koning in die Afrikaanse musiekbedryf en die eer van ’n Ghoema-toekenning is iets waarna elke kunstenaar smag.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'