GEORGE NUUS - Die liggaam van ‘n kleuterdogtertjie is gister (4 Februarie) vroegmiddag in die see tussen Kleinkrantz en Swartvlei deur ‘n visserman gevind.
Kapt Malcolm Pojie, provinsiale polisiewoordvoerder, het bevestig dat daar ‘n sterk vermoede bestaan dit die liggaam van die tweejarige kind is na wie polisieduikers en lede van die nasionale seereddingsinstituut vir meer as ‘n week onverpoos gesoek het.
'n Ma (34) het op 21 Januarie met haar twee kinders, (2 en 8) by 'n krans op die Voëlklip-pad afgery. Die seun (8) is op 'n onverklaarbare manier uit die voertuig geslinger voor dit by die krans afgetuimel het.
Hy is sowat 2 km van die toneel af deur 'n motoris gevind wat die polisie ontbied het. Die ma se liggaam is kort na die voorval in die water gevind, maar na meer as ‘n week se soektog was daar nog geen teken van die tweejarige dogtertjie se liggaam nie.
“Die liggaam is erg ontbind, maar na aanleiding van die kleredrag vermoed ons sterk dat dit wel dié tweejarige dogtertjie is,” het Pojie gesê.
“’n Visserman het die liggaam gesien en die polisie en NSRI is ontbied. Die NSRI het die liggaam uit die water verwyder. ‘n Mens sal eers na DNA toetse verseker kan sê of dit dieselfde kind is.”
Verwante artikel: Third day of search for missing girl
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'