GEORGE NUUS - Meer as die helfte van die mense in die Wes-Kaap, wat kán stem, het reeds as kiesers geregistreer.
Die goeie nuus oor die kieserslys in die Wes-Kaap kom teen die agtergrond van afwagting oor 'n aankondiging van die verkiesingsdatum. Die verkiesingsdatum sal waarskynlik in die tweede helfte van die week aangekondig word.
Uit 'n verklaring van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) in die Wes-Kaap blyk dit dat 63,8% van die stemgeregtigde bevolking reeds as kiesers geregistreer is.
Die OVK Wes-Kaap het die inligting bekendgemaak na aanleiding van die onlangse registrasienaweek. Die kieserslys in die Wes-Kaap staan nou op 3 269 644.
Tydens die naweek van 3 en 4 Februarie het 39 694 nuwe kiesers geregistreer. Altesaam 48 135 het herregistreer.
Verblydend is die registrasies onder die jeug. In die ouderdomsgroep 20 tot 29 jaar het 17 331 kiesers geregistreer. In die 18 tot 19 groep 3 743 en die groep 16 tot 17 altesaam 5 699.
Van die 8 270 gevangenes wat deur 'n OVK-program geïdentifiseer is, het 1 684 geregistreer by 30 tronke in die tydperk 30 Januarie tot 1 Februarie.
Politieke partye het in die algemeen die jongste nuus van die OVK verwelkom.
Nog tyd
Vir kiesers wat nog nie geregistreer het nie, is dit darem nog nie neusie verby nie want die verkiesingsdatum is nog nie aangekondig nie. Hulle kan dit steeds doen, maar hulle sal moet spring. Daar word algemeen verwag dat pres. Cyril Ramaphosa aanstaande week die aap uit die mou gaan laat oor 'n verkiesingsdatum.
Ofskoon die datum nog nie aangekondig is nie, maak politieke partye vir beplanningsdoeleindes gereed vir 22 Mei.
Lees politieke leiers se kommentaar by www.georgeherald.com
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’