GEORGE NUUS - Die spelvernuf van Kelsey Jacobs het haar skool, George Sekondêr, baie trots gemaak nadat sy die louere opgeraap het in die gr. 10-afdeling van die grootste nasionale spelkompetisie, die Sanlam Woorde Open Wêrelde (WOW) Spelfees.
Die eindronde het op Saterdag 15 Oktober by die Universiteit Stellenbosch plaasgevind.
Kelsey het nie één spelfout gemaak nie. "Dit was 'n ongelooflike gevoel toe ek wen. Ek is so opgewonde. Dit is die eerste keer wat ek 'n nasionale kompetisie wen."
Buiten 'n medalje en trofee het Kelsey ook 'n woordeboek, selfoon en kontantprys ingepalm. Sy het ook 'n balkie ontvang as bewys van haar titel as topspeller in haar afdeling.
Kelsey sê haar senuwees het maar geknaag. "Die laaste ronde van die kompetisie het meer as vier ure geduur, maar ek het myself gekalmeer en vir myself gesê ek kan dit doen."
Sy is 'n bewys van die gesegde, 'aanhouer wen'. "Dis die sesde jaar wat ek deelneem. Ek was in gr. 3 by Hibernia Primêr toe ek die kompetisie die eerste keer aangepak het. Ek het dit een keer vantevore tot by die nasionale kompetisie gemaak en toe vierde geëindig. Die ander kere het ek die provinsiale rondes gehaal."
Vanjaar het sy haar hele Julievakansie opgeoffer om voor te berei. "Ons het spellyste gekry en ek het hard geleer. Dit was die moeite werd, maar dit was nou my laaste jaar van deelname."
Sy sê haar taalvaardigheid is baie goed en sy lees graag. Sy het al amper 'n hele boekrak vol boeke as pryse in die spelkompetisies gewen. Toe sy in gr. 3 was, het haar onderwyseres, Pauline Bredenkamp, haar aangemoedig om in te skryf.
Van toe af het haar spelvermoë elke jaar verbeter. In graad 7 was sy die top- akademiese presteerder by Hibernia Primêr. Haar droom is om eendag as pediater te werk.
Die WOW Spelfees vorm deel van die WOW-bemagtigingsprojek van die Toyota Universiteit Stellenbosch Woordfees.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'