Tsungu was die gasspreker by die geleentheid wat verlede Donderdagaand by Down to Earth-restaurant aangebied is. Sy hoë ouderdom ten spyt, het hy gaste met gevatte sêgoed en flink humor, ook ten koste van homself, kort-kort laat skater.
Uitsprake soos, "Ek is baie lief vir Afrika-ners. Ek is 'n produk van die boere," het reg in sy gehoor se kraal gepas.
Tsungu is as kind ingeneem en grootgemaak deur die Malan-gesin van Heidelberg nadat hy by hulle huis ingebreek het. Hy het uiteindelik pastoor en onderwyser geword.
Hy het Donderdagaand waardering uitgespreek teenoor sakelui en die boeregemeenskap. "Landbou is die ruggraat van die land. Daarom is die uitmoor van boere en hul werkers 'n groot tragedie."
Hy het gesê die sakegemeenskap "dra die land op hul skouers" en hulle aangemoedig om vol te hou in wat hulle doen. Hy was uitgesproke oor nasionale kwessies soos stakings wat met geweld en bloedvergieting gepaard gaan, die land se vigsinfeksiesyfer, hoë amptenare wat "lyf wegsteek" terwyl hulle vet salarisse verdien en onproduktiwiteit van werkers.
"Die ekonomie is besig om in duie te stort en armoede staar ons in die gesig. Mense sal hulle moue moet oprol. Indien stakings nie beëindig word en mense nie ophou om weg te bly van die werk nie, gaan armoede nie verminder word nie. Ons het baie luiaards in die land wat nie wil werk nie. Werk is nie 'n vloek wat vermy moet word nie."
Tsungu het groot lof gehad vir Arbeidsbediening se bedieningswerk onder werknemers in die sake- en landbousektor en gesê die organisasie maak 'n blywende verskil in die lewens van mense.
Deel van die jaarlikse Prestige Gala is 'n sertifikaatoorhandiging aan ondernemings wat geëvalueer is in terme van leierskap en die vertroue wat tussen werknemers en die werkgewer bestaan. In die afdeling vir klein sakeondernemings het Meyer Von Wielligh en Touw Meubels erkenning ontvang. Die ander presteerders was Skimmelkrans Boerdery (afdeling vir medium groot firmas) en Watson's Meat (afdeling vir groot sakeondernemings).
Die evaluasie wys aan ondernemings uit wat hulle interne welvaart kniehalter (indien wel), en bied 'n objektiewe blik op hoe hulle bestuur van die besigheid en die lojaliteit van die personeel werklik daar uitsien. Waar tekortkomings geïdentifiseer word, bied Arbeidsbediening hulp aan om die leemtes aan te spreek.
Volgens ds. Floors Meyer, voorsitter van die organisasie, word die evaluering so hoog aangeslaan dat dit jaarliks as meetinstrument gebruik word om vir die Provinsiale Departement van Landbou in die Wes-Kaap die resultate van die bediening aan die landbousektor aan te dui.

Verteenwoordigers van Arbeidsbediening saam met die gasspreker, Justus Tsungu. Weerskante van hom is Innes Benade (links) en Sam Juba. Agter staan prof. Paul Botes, Rina Collins, Tessa Nieuwenhuys, Riana Crafford, Floors Meyer, Willie Viljoen (van Arbeidsbediening in Kaapstad) en Pietie le Roux.
ARTIKEL EN FOTO'S: ALIDA DE BEER, GEORGE HERALD-JOERNALIS