GEORGE NUUS - Joshua Lindoor, (10), 'n gr. 4-leerling van Laerskool George-Suid het R10 000 losgeslaan in kompetisie by die skool wat in samewerking met die George Vryburgers gehou is. Dit was deel van die skool en die George Vryburgers se Veerlose Vlerke-projek.
Die projek, waartydens daar geld ingesamel is om kos vir mense in nood te koop, het op 5 Augustus afgeskop. Die George Vryburgers sal die fondse deur die kos vir kinders-projek bestuur en skole ondersteun met 'n daaglikse kospakkie vir kinders.
Mense kon 'n lootjie teen R10 elk koop vir 'n kans om R10 000 los te slaan. Een van die onderwysers Suzette van der Westhuizen, het toe verlede Woensdag, 13 Oktober, op 'n hoogte van 10 000 voet 'n tandemsprong uitgevoer en kort na 11:00 veilig op 'n blok by die skool se sportterrein geland.
Met die hulp van 'n landmeter en ouditeure kon die wenner bepaal word.
Suzette van der Westhuizen (in rooi oorpak) kort nadat sy die tandemsprong uitgevoer het.
Joshua se voorgevoel
Maandag 18 Oktober het Joshua sy skoolwerk vir 'n rukkie opsygeskuif om 'n reusetjek van lede van die Vryburgers te ontvang. Sy ma, René, die skoolhoof, Sas du Plessis, en ander onderwysers het gekyk hoe Marius Venter en Hanno Maritz van die Vryburgers die tjek oorhandig.
Joshua het vertel hy het 'n voorgevoel gehad hy gaan dalk wen. Hy het gekyk hoe die valskermsprong plaasvind en is later ingelig dat hy die wenkaartjie gekoop het. Natuurlik was hy baie bly. En ja, van sy maatjies wou al by hom geld leen nadat dit bekendgeword het dat hy gewen het.
Hy gaan die meeste van die geld spaar, maar gaan homself darem bederf. Hy is van voorneme om vir homself 'n fiets te koop. Hy het op die oomblik nie 'n fiets nie. "Ek hou baie van fietsry."
Joshua speel ook graag rugby en wil vir homself 'n skrumpet en skouerkussings koop. René vertel dat sy en haar man, Petrus in ekstase was toe hulle hoor dat Joshua gewen het.
René Lindoor (links), Joshua Lindoor en Marius Venter en Hanno Maritz van die George Vryburgers.
Die oggend toe die kaartjiegeld inbetaal moes word, het sy nog die geld vir Joshua gegee.
Hulle is trots op Joshua en dink dit is die regte besluit om die meeste van die geld te spaar.
Dis moontlik dat hy ook ietsie vir hul kerk, die Kerk van die Nuwe Testament, se kosprojek sal gee. Die kerk is betrokke by 'n kosprojek wat elke Donderdag kos vir minderbevoorregte mense gee. "Ons as ouers leer ons kinders om mededeelsaam te wees," het sy gesê.
Joshua Lindoor ontvang die tjek van Marius Venter en Hanno Maritz van die George Vryburgers.
Groot sukses
Venter en Maritz was dit eens dat die projek 'n groot sukses was. 'n Bedrag van R269 630 is ingesamel en dit sal moontlik weer aanstaande jaar gehou word.
Du Plessis het die gemeenskap, die George Vryburgers en die skool bedank vir almal se deelname om die projek 'n sukses te maak.
Suzette van der Westhuizen, onderwyser van die Laerskool George-Suid kort nadat sy die tandemsprong uitgevoer het. By haar staan Sas du Plessis, hoof van die skool. Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'