Die gala-geleentheid het in Rawsonville plaasgevind. Die wenner, Jan Viljoen, boer op die plaas Middelplaas in die Caledon distrik met onder andere persimmons, pere en skape. "Ek voel dit is belangrik om betrokke te bly by jou produk", sê hierdie jong boer wat duidelik ‘n pragtige voorbeeld en rolmodel vir ander jong manne en vroue in die provinsie is.
Niël Joubert, voorsitter van die paneel wat die beoordeling behartig het, het Santam Landbou bedank vir hulle investering in die jong boere van die Wes-Kaap deur die borgskap wat hulle vir hierdie kompetisie bewillig het. Jong boere se uitdagings is net so groot soos meer gevestigde boere, maar hulle het nie noodwendig die nodige vangnette waarop hulle kan terugval as hulle besigheid in die moeilikheid beland nie, daarom het hulle alle ondersteuning nodig wat hulle kan kry. Jong boere is die volgende generasie wat die landbousektor verder moet help ontwikkel en uitbrei.
Jan gaan as provinsiale wenner deur na die nasionale Jongboer van die Jaar kompetisie wat later hierdie jaar plaasvind.
Johannes Fourie van Monteith Trust in Grabouw is die naaswenner.
Artikel verskaf deur die Suid-Kaap Forum, susterkoerant van die George Herald.
Van links is Jantjie Jonker, Johannes Fourie, Hannes du Plessis (Santam Landbou) en Jan en Liesel Viljoen.