GEORGE NUUS - Sy 17de verjaarsdag en die dag daarna, is dae wat Jaun du Plessis van George nooit sal vergeet nie. Op sy 17de verjaarsdag voor verlede week, het Jaun die mondelingeksamen vir sy privaat vlieglisensie afgelê en die dag daarna die praktiese eksamen. En hy het geslaag.
Die plan was aanvanklik dat hy alles op een dag sou doen, maar die weer in George wou nie saamspeel nie en die praktiese deel moes vir 'n dag uitgestel word.
Sover bekend is hy een van die jongste mense in die wêreld om dit reg te kry.
Jaun sou dit al vroeër kon doen. Al sy vliegopleiding was afgehandel, maar hy moes eers wag vir sy 17de verjaarsdag.
Hy is 'n gr.11-leerling by Glenwood House. So terloops het hy vertel dat hy soms pouses by die skool gebruik het om opsommings van die teoretiese dele van die kursus te maak.
Sy belangstelling in vlieg kom al van 7-jarige ouderdom.
Sy ma, AnnMare, se destydse werkgewer het 'n ligte vliegtuig besit. Wanneer die vliegtuig gewas is, moes dit droog gevlieg word en Jaun was dan saam. Op 15-jarige ouderdom het hy op eie inisiatief begin uitvind wat dit behels om te vlieg.
In November 2017 het hy in alle erns begin planne maak en vroeg in 2018 het hy 'n leerlinglisensie by die Flight Training College by die George-lughawe gekry.
Toe het die harde werk begin. Teoretiese studies en praktiese opleiding saam met 'n instrukteur.
Op sy 16de verjaarsdag verlede jaar het hy sy eerste alleen vlug gedoen. "Dit was aanvanklik stresvol. Toe ek eers in die lug was het alles teruggekom wat ek geleer het."
Dit het beteken hy kon alleen vlieg, maar hy mag nie passasiers vervoer nie.
Die verwerwing van 'n privaat vlieglisensie het gewag. Hy het vinnig gevorder, maar daar was 'n kinkel in die kabel. Om die lisensie te verwerf moes hy eers 17 jaar oud wees.
Jaun du Plessis agter die stuurstang van 'n vliegtuig.Hy het nog nie rybewys vir ‘n motor nie en het met 'n glimlag vertel: "In die stadium ry ek maar fiets."
Jaun is nie bang om te vlieg nie. Hy het goeie opleiding gehad, ken al die noodprosedures en het meer as 60 vliegure op sy kerfstok.
Volgens hom is die moeilikste en gevaarlikste deel beslis die landing. Verskeie dinge moet in ag geneem word wanneer die landingstrook genader word. Dit sluit in die tipografie soos byvoorbeeld bome en aangrensende geboue.
Jaun sit nie stil nie en het reeds begin met die volgende fase van sy opleiding wat uiteindelik kan uitloop op sy handelsvlieglisensie. Hy is van voorneme 'n loopbaan van vlieg te maak.
Buiten die skoolwerk is sy aandag op die oomblik by posaflewering. Hy hou dit met arendsoë dop. Sy lisensie word in Pretoria uitgereik en dan na hom gestuur. Sodra hy dit ontvang het kan hy vlieg.
Sy ouers, Jaco en AnneMare gun hom dit. Hulle is nie senuweeagtig as hy gaan vlieg nie want hy het goeie opleiding gehad. Volgens AnneMare sal sy saam met Jaun gaan vlieg.
Jaun du Plessis (regs) by sy ma, AnnMare du Plessis. Foto: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'