GEORGE NUUS - Niks kry Jana Human (8) onder nie. Jana, wat in September 2021 met akute limfoblastiese leukemie gediagnoseer is, is weer volstoom aan die gang met haar Winter Woolies-projek.
Sy moes in die verlede behandeling by die Rooikruis-kinderhospitaal ondergaan. Tydens haar verblyf in die Kaap in 2021 het sy gesien daar is baie kinders wat van publieke vervoer gebruik moet maak en soms nat en koud om 08:00 by die hospitaal vir behandeling opdaag.
Sy het toe later die projek, Jana's Winter Woolies begin om aan die kinders 'n kombersie, serp en handskoene te gee vir die winter. Van dit is al aan die kinders uitgedeel en bydraes word steeds ontvang.
Jana se ma, Petru Human, het Maandag gesê sy wil graag saam met twee van haar medepasiënte, Paten Pillay, wat net soos sy een keer per maand chemo ontvang en Eben Willemse wat weer vanaf Maandag (20 Februarie) intensiewe rooi chemo by Rooikruis ontvang, aanhou met haar Winter Woolies-projek. Paten woon in Mosselbaai en Eben in George.
Jana het reeds 'n groot hoeveelheid "winter woolies" aan Choc (Childhood Cancer Foundation) in Kaapstad gestuur. Adri Mans het dit vir haar by Choc gaan aflewer. Hierdie was grotendeels die handewerk van Adri en haar vriendegroep.
Jana se ouers neem hierdie week weer 'n hoeveelheid deur na Kaapstad Choc. Hulle wil graag nog mussies, komberse en kussingtjies skenk, maar die vlytige vingers se wol-voorraad is uitgeput.
Volgens Petru gaan dit op die oomblik goed met Jana. "Haar bloeduitslae is tans goed nadat sy Desember in isolasie was weens haar immuniteit wat baie laag was. Sy gaan nou weer voltyds skool en neem deel aan sport so ver haar kragte dit toelaat. Sy ontvang chemo en beenmurgtoetse een keer per maand."
Sy is 'n graad 3-leerder by George Voorbereidingskool.
Paten se ma, Renay, het gesê hulle verwelkom die projek. "Enigiets wat bewusmaking skep vir kinders met kanker en hulp word verwelkom."
Eben se pa, Johann het gesê enige so projek word in die stadium verwelkom.
Eben Willemse
Skenkings
Enige bydraes vir wol of kontantskenkings is welkom. Bel Denise (071 191 4355) of Adri (082 800 5880).
Kontant bydraes kan inbetaal word by:
JANA4CANCER NPO, FNB 63000256669 Tak 210114.
('n Bank bevestigingsbrief kan aangestuur word op aanvraag en Art 18 A kan uitgereik word vir skenkings).
Paten Pillay
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'