Gallery
GEORGE NUUS - Inwoners van Groenkloof-aftreeoorde het Vrydag 24 Junie hul dankbaarheid betoon teenoor die munisipaliteit en sy brandweerdienste vir hul hulp om 'n moontlike katastrofe op 18 Mei te voorkom toe 'n reusebrand in die omgewing gewoed het.
Heerlike biltong is aan die brandweer-personeel oorhandig wat dag en nag onverpoos gewerk het om die brand te blus.
Tydens Vrydag se geleentheid by die Groenkloof Restaurant was onder meer Leon van Wyk, George-burgemeester, stadsraadslede, Neels Barnard, George-brandweerhoof en Santa Sternsdorf, stasiebevelvoerder van George-brandweer.
Die brand het by die George-dam ontstaan nadat kragdrade as gevolg van sterk wind aanmekaar geraak het. Die sterk wind, wat by tye teen sowat 80 km per uur gewaai het, het die vuur aangeblaas. In 'n stadium was daar ernstige kommer dat die eiendom van Groenkloof in gevaar is.
Voorreg om dankie te sê
Ds. Michiel Burger, algemene bestuurder van Groenkloof-oorde, het tydens die geleentheid gesê dis 'n voorreg om die betrokkenes te bedank vir hul uitsonderlike diens.
"Wat 'n voorreg om dankie te kan sê vir soveel onbaatsugtige diens. Die brand-weerpersoneel het ook deur die nag waggehou terwyl die vuur gesmeul het. Leon van Wyk, ons burgemeester, het ook die nag 'n draai gemaak om te kyk of alles wel is."
Volgens Burger is mense dankbaar vir die formaat van leiers soos Van Wyk.
Daar was 'n groep vroue wat daardie dag saam gebid het. By 'n sekere punt het die wind gedraai. "Al die eer en dank aan God. Te midde van alles het God waggehou."
Hy het ook mense bedank wat Vrydag se geleentheid moontlik gemaak het, waaronder Gideon van Zyl wat die biltong verskaf het.
FOTOGALERY: Groenkloof sê vir brandweerdienste dankie
Inwoners en bestuur van Groenkloof-oorde, Leon van Wyk, George se burgemeester, stadsraadsllede en senior personeel van George-brandweer tydens Vrydag se geleentheid. Van links: Johan van Roon, Wessel Delport, Niel Murray, Daniel Murray, Jan Fourie, Santa Sterndorf, Leon van Wyk, Charlotte Clark, Michiel Burger, Neels Barnard en Marais Kruger.
Burgemeester Leon van Wyk
Van Wyk het gesê, "Ons is baie dankbaar vir die toegewyde werk wat die brandweerspanne doen."
Volgens hom het George-brandweer die afgelope klompie jare seker gemaak dat hulle oor die nodige toerusting beskik om alle tipe brande te kan blus. Dit is verskerp na die 2018 brande in George. Bykomende toerusting is beskikbaar gestel en sluit onder meer 'n tenkwa met 'n 35 000 liter water kapasiteit, 'n mobiele dam en ook 'n hommeltuig in.
'n Mobiele voorvalbeheersentrum (Incident command centre) is op 'n voertuig ingerig. Dit word gebruik in ramptoestande soos byvoorbeeld vloede.
Die brandweer beskik oor genoegsame toerusting om in byvoorbeeld die berg en moeilike terrein te kan help. Die George-brandweer het ook al buurmunisipaliteite in noodsituasies gehelp.
Sternsdorf het gesê die brandweer-personeel is baie dankbaar dat die werk wat hulle doen, raakgesien word.
Die blyk van waardering, die pakkies biltong, sal beslis onder die personeel versprei word.
Santa Sternsdorf, stasiebevelvoerder van George-brandweer (links), Neels Barnard, George-brandweerhoof, Johan van Roon, voorsitter van Groenkloof Village Huiseienaarsvereniging (HEV) en Leon van Wyk, George-burgemeester tydens die oorhandiging van die biltong. Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'