TUINROETE NUUS - Sy pa het hom geleer oor rugby en leierskap – hoe om werklik jou gemeenskap te dien. “Hy was my alles.”
So vertel die president van SWD-rugby, Hennie Baartman, na die skoknuus gistermiddag dat hy sy pa, Jan Baardman (72), 17 dae na die dood van sy ma, Maria Baardman (69), verloor het.
Beide Baartman se ouers het weens die Covid-19 virus gesterf. Maria Baardman is op 22 Desember in die Klein-Karoo Mediclinic oorlede en sy pa het op 8 Januarie in die Oudtshoorn Provinsiale Hospitaal gesterf.
Baartman het vanoggend met George Herald gesels oor sy ouers en hoe hul lewensuitkyk sy eie lewenspad beïnvloed het.
“Ons het kerk en rugby gedeel. Toe ek ‘n klein laaitie was het my pa my oral saamgevat. Ons het saam na rugby-games gaan kyk en ek was bewus van al die komitees waarop hy gedien het,” het Baartman gesê.
“My pa het oor die 40-jaar aktief op die kerkraad gedien, hy was ‘n politieke aktivis destyds vir die UDF, later vir die ANC en vir Saptu (South African Parastatal and Tertiary Institutions Union).”
Jan Baardman
Jan Baardman was ‘n stigterslid en beheerliggaamslid van Saturnus Primêre Skool in Toekomsrus, Oudtshoorn, en was vir jare betrokke by die Eljada-Kairos Skool vir Gestremdes in Oudtshoorn. Hy het sedert die ouderdom van 65 die skool se bussie bestuur.
Volgens Baartman was sy pa ‘n groot ondersteuner van die Bridgeton-rugbyklub en Perseverance. “Ons het nie ‘n game gemis nie,” het Baartman gesê. “Hy was my mentor, my vriend. Selfs as skoolhoof van Eljada-Kairos Skool het ek gereeld by hom gaan aanklop vir advies.”
•Op ‘n vraag oor die verskillende spelling van sy van en die van sy ouers (Baartman vs Baardman) het Hennie gesê hy het ook al daai vraag gevra: “Jong, destyds het jy jou kind se naam en van vir die veldkornet gegee. Hulle het maklik ‘n kortpad gevat as dit kom by name. As jou naam Jason was het hulle dit sommer Jan gemaak. By my het ‘n ‘d’ nou ‘n ‘t’ geword.”
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'