GEORGE NUUS - Die voormalige direkteur van siviele dienste in George, Harold Basson, is die nuwe direkteur van tegniese dienste van Hessequa-munisipaliteit.
Die Hessequa-raad het op Donderdag 13 Desember, eenparig besluit Basson is die regte persoon om die munisipaliteit se infrastruktuur te bestuur en te ontwikkel.
Hy sal in Januarie by die munisipaliteit begin.
As tegniese hoof van Hessequa is hy aan die stuur van sake by siviele- sowel as elektro-tegniese dienste, terwyl dié twee funksies in George geskei is.
In 'n ironiese kinkel is 'n vorige direkteur van tegniese dienste in Hessequa, Reggie Wesso, onlangs in Basson se ou pos in George aangestel, nadat Basson einde Mei 'n aanbod van vervroegde uittrede aanvaar het.
Basson sê die 35 jaar wat hy en sy vrou, Lidia, in George gebly het, was van die lekkerste jare van sy lewe.
Die munisipale bestuurder van Hessequa, Johan Jacobs, sê hy is dankbaar om iemand met die ervaring en kwalifikasies van Basson te verwelkom.
"Ons het baie goeie vriende gemaak en dit is met hartseer waarmee ons George verlaat. Dit was 'n voorreg om in so 'n pragtige omgewing te werk en te bly.
"Ek het George sien groei van 'n kleinerige dorp na die kleinerige stad wat dit vandag is.
"Vir 31 jaar was ek uit die aard van my rol by George-munisipaliteit direk betrokke by die vestiging en onderhoud van infrastruktuur om te verseker dat dit aan 'n groeiende aanvraag voldoen. Uit 'n beroepsoogpunt was dit fantasties om deel te kon wees van die spesifieke tydperk in George se geskiedenis.
"Ek is dankbaar vir die goeie kollegas waarmee ek kon saamwerk."
Basson is dankbaar vir die vertroue wat die raad in hom gestel het. "Ek is baie opgewonde oor die nuwe uitdaging in 'n bekende omgewing." Basson hou gereeld vakansie op Stilbaai waar hy ook 'n huis besit.
"Hessequa se verantwoordelikheid strek oor verskeie dorpe oor 'n groot gebied en bring daarmee ook spesifieke uitdagings. Die tegniese departement speel 'n groot rol in die dienslewering aan die gemeenskap. Saam met die Hessequa-raad en personeel hoop ek om ook in dié gemeenskap 'n bydrae te maak."
Hessequa-munisipaliteit is gesetel in Riversdal en bedien dorpe soos Heidelberg, Stilbaai, Albertinia, Slangrivier, Witsand en Gouritsmond.
Die munisipale bestuurder van Hessequa, Johan Jacobs, sê onderhoude is Vrydag 8 Desember deur 'n paneel verteenwoordigend van al die politieke partye op die raad gevoer.
"Ek is baie dankbaar om iemand met die ervaring en kwalifikasies van mnr. Basson te verwelkom in die bestuurspan van Hessequa-munisipaliteit en sien baie uit na die nuwe uitdagende tyd wat vir Hessequa voorlê."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'