Gallery
GEORGE NUUS - GO GEORGE het gratis busritte oor vier opeenvolgende naweke aangekondig vir passasiers wat hul eie Slimkaarte het.
Om die mylpaal wanneer die stelsel afskop te vier, sal kaarthouers ook gratis ry op die eerste drie dae ná implementering van die Slimkaartstelsel: Donderdag tot Saterdag, 15, 16 en 17 November 2018.
Slimkaartkiosks en -mobiele voertuie het Maandag 15 Oktober begin om kaarte te verkoop, en hierdie vrygewige aanbod aan die publiek is aangekondig as aanmoediging om sommer nou al hul Slimkaarte te koop.
Op Saterdag en Sondag 20 en 21, en 27 en 28 Oktober, 3 en 4, en 10 en 11 November sal passasiers toegelaat word om gratis bus te ry as hulle hul Slimkaart kan toon.
"Buiten dat ons graag wil hê dat passasiers hul Slimkaarte so gou moontlik moet koop om 'n bottelnek te vermy wanneer ons uitrol, wil ons ook passasiers aanmoedig om die besparing wat na hul kant toe kom met die gratis reisdae te benut deur 'n voorraad ritte op hul Slimkaarte op te bou, wat dan van Sondag 18 November af gebruik kan word," sê James Robb, GO GEORGE-bestuurder.
"Ritte kan by dieselfde Slimkaartkiosks en -mobiele voertuie wat die kaarte verkoop, gelaai word. Die herlaaipunte (top-up vendors) sal op 1 November ritte begin verkoop."
'n Pamflet met die lys van Slimkaartkiosks en die skedule van die mobiele voertuie wat na verskillende dele van die dorp ry om kaarte en ritte te verkoop, is nou beskikbaar by die GO GEORGE-passasiersdiensbeamptes op die busse en by bushaltes.
Dit kan ook afgehaal word by die inligtingskiosk in die George-vervoerkern (Hub) waar die inligtingsbeampte reg staan om vrae te antwoord oor die nuwe stelsel, of dit kan afgelaai word op die webblad www.gogeorge.org.za.
Vir meer inligting, skakel gerus die GO GEORGE-inbelsentrum by 0800 044 044, stuur 'n e-pos na info@gogeorge.org.za, of volg GO GEORGE op Facebook vir die jongste nuus.
Quenita Jackson was een van die eerste passasiers wat Maandagoggend haar Slimkaart by die kiosk in die Pacaltsdorp-gemeenskapsaal gekoop het. Slimkaartkassier Chelanza de Klerk kon haar niks nuuts vertel oor die kaart nie – soos om haar eie ID te bring, asook die geboortesertifikaat vir die vriendin vir wie se kind sy ’n kaart moes kom koop. "Ek het alles daaroor op Facebook en in die koerant gelees!" sê sy.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'