Maar in Rowynsingel staan een huis uit soos 'n seer vinger. Niks uitspattigs nie, maar netjies. Maar dan, met die tweede kykslag tref die andersheid jou tussen die oë. Dit lyk kompleet of die natuur hier 'n vastrapplek gekry en sy stempel op die huis afgedruk het. Eintlik oorgeneem het.
Dan besef mens: hier bly iemand wat na aan die natuur lewe.
Hierdie stukkie hemel behoort aan Andrew Uithaler - 'n natuurmens by uitstek. Een in voeling met die wêreld daarbuite, die wêreld van die omringende berge en klowe, die riviere en bergstrome. 'n Wêreld waar 'n kunstenaar soos Andrew homself kan uitleef.
Andrew vertel hy het op 'n plaas in Geelhoutboom plantasiewerk gedoen en daar sy liefde vir die natuur gevind. Ongeveer sewentien jaar gelede het hy na Golden Valley verhuis nadat die meeste plantasiewerkers hul werk verloor het. Maar hy's nie 'n mens wat kan stilsit nie, sê Andrew, en bowendien het die omringende berge hom geroep. Dis toe wat hy besluit het om die klowe en die rivierstrome in te vaar om 'n stukkie van die natuur te gaan soek. "Die natuur het my geroep en ek het geluister."
Weekliks gaan stap hy in die klowe en deurkruis hy die rivierstrome op soek na spoelhout en klippe met snaakse of interessante vorms. Hy sê "dit moet met jou praat."
Dié dra hy dan op sy skouers terug na Blanco waar hy dit teen sy huis se mure drapeer. Sy kunstenaarsbloed neem dan oor en met 'n beitel en hamer graveer hy die allermooiste spirituele versies uit op die hout. Versies soos Ware skoonheid hang ten nouste saam met 'n skoon gewete, Uitspan om te ontspan, Om te weet is om te onthou, en Tydperke van afsondering kan genotvol wees.
Hierdie houtversies word kunstig wegge-steek in 'n blarekombers wat sy hele huis se mure bedek - die resultaat van 'n klein klim-op-rankplant wat hy sewentien jaar gelede aangeplant het en nou die mure oorgeneem het. Dié rankplant groei oral waar dit vastrapplek kry. Dit het selfs 'n plafon gevorm in die nou gangetjie tussen sy Hop-huis en die ekstra vertrek wat hy aangebou het. Heerlik koel in die somer en in die winter hou dit die reën uit. Selfs die vullisdrom is toegegroei, maar die deksel kan oopgemaak word.
Al is hy steeds werkloos, sit en wens hy nie die dag om soos so baie ander mense in 'n soortgelyke posisie nie. "Die natuur roep my elke dag." Dan vat hy die pad op klowe toe of onder na die rivierstrome. "Altyd met 'n lied in die hart."
Dan maak niks meer saak nie, want hy is omring deur dit wat hy hartstogtelik lief het.
Dan maak die een versie wat hy met liefde uitgebeitel het meer sin: "Liefde is tyd en ruimte, gemeet met die hart."
Dalk moet iemand 'n nuwe versie op 'n stuk hout graveer - "navolgenswaardig" - en dit by sy voordeur ophang waar mense in die gemeenskap dit kan sien. En hoop dit inspireer ander ...
Mense wat graag na Andrew se houtskeppings wil kom kyk, kan hom gerus by 073 300 2474 bel om 'n afspraak te maak.

Andrew het die stukke spoelhout wat hy uit die klowe aangedra het kunstig om sy huis gedrapeer.
ARTIKEL EN FOTO'S: HUGO REDELINGHUYS, GEORGE HERALD-JOERNALIS