GEORGE NUUS - Die gewilde regshulpprokureur van George, Gustav Deyce (55), is verlede Saterdag gegroet na hy op Nuwejaarsdag aan Covid-19-komplikasies oorlede is.
Deyce, 'n boorling van Blanco, was een van ses kinders. Hy het sy laerskoolloopbaan by Kretzenshoop Primêr begin en aan Hoërskool George gematrikuleer.
Daarna het hy sy BProk aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWC) verwerf, waar hy aktief betrokke was by studente-politiek in 1985.
Nadat hy sy artikels by 'n privaatpraktyk in Bellville voltooi het, was hy werksaam by verskeie privaatpraktyke in Kaapstad voor hy 13 jaar gelede na George teruggekeer het en by die SA regshulpraad se kantoor in die dorp begin werk het.
In 2013 is Deyce by die Wes- en Noord-Kaap regshulpraad se prestasietoekennings as naaswenner: prokureur van die jaar aangewys.
Hy was geliefd onder sy kollegas en was briljant in sy werk. Hy word beskryf as iemand wie se deur altyd oopgestaan het vir die gemeenskap en het verskeie mense kosteloos gehelp.
Sy familie sê hy het homself uitgeleef in sy werk en was 'n kranige gholfspeler.
Hy laat sy vrou, Zuastrid, 'n dogter, twee seuns, 'n kleinseun en vier susters agter.
Douglas Kiewitz (derde van regs) en sy skoonseun, Gustav Deyce (tweede van regs) omring deur die familie. Van links: Marcus Ingram, Morgan, klein Storm in haar ma Shivontri se arms, Sanicath en Zuastrid.
Douglas Kiewitz
Sondag, slegs 'n dag na Deyce se gedenkdiens, het sy skoonpa, Douglas Kiewitz (78), ook aan Covid-19-komplikasies gesterf. Kiewitz, 'n bekende oud-onderwyser van Pacaltsdorp, was vir meer as 31 jaar 'n onderwyser by Pacaltsdorp Primêr, dieselfde skool waar hy sy skoolloopbaan begin het.
Self 'n kranige rugbyspeler op sy dag, het hy ook rugby en atletiek by die skool afgerig.
Zuastrid sê haar pa was 'n gebore onderwyser.
"Hy was baie streng en het die bynaam 'Van Damme' gehad, maar het baie vir die kinders omgegee. Hy wou hê hulle moes hulle volle potensiaal bereik en sukses in die lewe behaal.
"Hy was presies in hoe hy dinge gedoen het, toegewyd en nederig. Hy het geleef vir ons, sy kinders en familie, en het gehou van tuinwerk, lees en musiek."
Kiewitz laat sy drie dogters, Zuastrid, Sanicath Kiewitz en Shivontri Ingram, asook 'n skoonseun en twee kleinkinders agter.
Die familie beplan 'n privaat-verassingsdiens en 'n gedenkdiens sal later gehou word.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'