GEORGE NUUS - Die ATKV-tak Sommer Net Ons van Pacaltsdorp, in samewerking met RSG-omroeper Martelize Brink en George-museum, bied op Saterdag 25 November 'Die Gesprek' aan, 'n geleentheid waar uitdagings en kwessies rondom mense met gestremdhede bespreek sal word.
Dit vind by die George-museum plaas en duur van 09:00 tot 13:00.
Werke van Patrick Botto, 'n plaaslike mondskilder, sal uitgestal word.
Een van die organiseerders, Ruzanne van Beulen, het vroeër vanjaar weens artritis van 'n rolstoel afhanklik geraak en sedertdien beywer sy haar vir beter toeganklikheid in George vir gestremdes.
"Ons wil graag dat al die verskillende organisasies vir gestremdes in George hande vat en saam werk om die lewenskwaliteit en omstandighede van persone met gestremdheid te bevorder," sê sy.
Een van die onderwerpe waarop die soeklig by Die Gesprek sal val, is die munisipaliteit se beplanning ten opsigte van ondersteuning vir gestremdes - wat al gedoen is in hierdie opsig, en wat nog gedoen kan word.
"Daar is ruimte vir verbetering en ons wil kyk hoe dit bewerkstellig kan word. Die jaarlikse Outeniqua-rolstoelwedren (OCC) bring mense van heinde en ver na George en laat val dan die fokus vir daardie tydperk sterk op gestremdheid, maar wanneer die opwinding verby is, is meer nodig. Ons het beter ondersteuning en hulpbronne nodig."
Daar sal gesprek gevoer word oor die versorging en ondersteuning van persone met gestremdheid asook diskriminasie in werkplekke. "As 'n reël is gestremdes baie betroubaar en hulle werk ekstra hard om hulleself te bewys. Werkgeleenthede sal dus ook onder die soeklig kom," sê Van Beulen.
Werke van Patrick Botto sal by 'Die Gesprek' op uitstalling wees.
Deurlopende uitreiking na gemeenskap
Sommer Net Ons het deurlopende uitreiking na die gemeenskap nie net om Afrikaans te bevorder nie, maar ook om mense se ingesteldheid teenoor gestremdheid positief te beïnvloed.
"Op hierdie uitreike poog ons om hierdie mense aan te moedig om steeds hul drome na te jaag en hulleself nie deur hul eie denke te laat beperk nie.
Een van ons lede wat siggestrem is, Gaylene Tobias, laat haar nie daardeur keer om haarself in 'n loopbaan van opleiding uit te leef nie. En waar sy rondbeweeg maak sy 'n daadwerklike impak."
Van Beulen het 'n verhoogstuk vir tieners geskryf om hierdie boodskap oor te dra.
"Ek wil hê mense moet besef elke dag is nuut en as jy asemhaal, het jy iets om ander te bied, al het jy 'n fisiese beperking."
Lede van Sommer Net Ons het vanjaar reeds die Harry Comay-tuberkulosehospitaal, Conville-kliniek, Bethesda en 'n aantal skole besoek.
Martelize Brink, RSG-omroeper, is deel van die program.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’