Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Al is hy 82 jaar oud, tree Gert van Tonder, een van die bekendstes in die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf, steeds op. Veral die ouer garde sal hom onthou vir sy betrokkenheid by die destydse Groep Twee.
Hy het ook talle liedjies geskryf waaronder een van die grootste treffers in Afrikaans, Sproetjies was. Hy was ook by talle televisieprogramme betrokke.
Van Tonder was onlangs (28 Julie) in George vir die 100-jarige feesvieringe van Hoërskool Outeniqua waar hy gematrikuleer het. Tydens sy besoek het hy ook die geleentheid benut om mense met sy sangtalent te vermaak.
Hy het die vorige dag, Donderdag 27 Julie, by Tuiniqua-versorgingsentrum opgetree. Te oordeel aan sy sang en bewegings, ken Van Tonder nie van stilsit nie. Hy het van sy trefferliedjies gesing en ook 'n paar staaltjies oor sy lewe gedeel. Van Tonder het ook tyd ingeruim om met George Herald te gesels.
Dis 'n lang pad wat hy geloop het van waar hy op 'n bosboustasie, Bergplaas, tussen George en Knysna grootgeword het. Op die oomblik woon hy en sy eggenoot, Eunice, in Randjesfontein, Midrand, Gauteng.
Benewens sang hou hy hom besig met werkies in en om die huis op die stukkie grond waar hulle woon. Hy is oupa van twee kleinkinders.
Hy het al toer-toer na George gekom en in Kroonstad, Bloemfontein, Gqeberha, Jeffreysbaai, Oudtshoorn, Hartenbos en George opgetree.
Van Tonder geniet die singery en is nie van plan om op te hou nie. Toe iemand hom onlangs gevra het wanneer hy gaan aftree was sy antwoord: "Wanneer ek opgaan (na die hiernamaals)."
Hy dank die Here vir 'n suksesvolle loopbaan en skryf nog steeds liedjies. In sy loopbaan het hy meer as 100 liedjies geskryf.
Sy loopbaan in die vermaaklikheidsbedryf het destyds in alle erns by die SAUK in Durban begin. Daar het hy onder meer in radioverhale opgetree en ook 'n nabootsing van Elvis Presley by 'n Kerspartytjie vir SAUK-personeel gedoen.
VIDEO: Eugene Gunning
Volgens Van Tonder onthou mense nog Groep Twee se liedjies en hulle sing saam by vertonings. Dit was 'n wonderlike tyd in sy lewe.
Hy het gesê dis wonderlik om weer terug te wees in George en hy is baie lief vir die plek. In 1984 het hy teruggekom na Bergplaas om sy vrou te gaan wys waar hy grootgeword het. Toe hy daar kom was daar niks oor nie en was hy baie teleurgesteld. Hy het toe 'n liedjie geskryf, Dis net 'n droom.
Sy boodskap aan die jeug is om hul voete op die grond te hou en te poog om 'n positiewe benadering tot musiek te hê.
'n Loopbaan in musiek is nie maklik nie en mens moet doelgerig wees. Hy is nie spyt oor enigiets nie en sal alles weer doen as hy die geleentheid kry.
En ja, mense herken hom nog. "Ek is maar 'n introvert en skaam." Tog is dit aangenaam as mense hom nog herken en geselsies aanknoop.
Gert van Tonder en sy eggenoot, Eunice, in George.
Gert van Tonder en sy eggenoot, Eunice in George. Foto's: Eugene Gunning
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’