GEORGE NUUS - Reynard Rossouw, 'n Georgiet wat onder die 151 Suid-Afrikaners is wat uit Wuhan ontruim gaan word, sê een van die eerste dinge wat hy sal doen wanneer hy weer terug is in sy tuisdorp, is om sy kollegas by 'n superette op Wilderness te gaan groet en 'n lekker kerrievetkoek daar te koop.
"Ek dink dis wat ek die meeste mis!"
Rossouw het in September verlede jaar in China aangeland en sou eers na Suid-Afrika terugkeer wanneer sy kontrak in Julie eindig en ná 'n besoek aan Beijing, maar Covid-19 (die Koronavirus) het sy planne omvergewerp. Hy sou oorspronklik in Shenzhen gewerk het, maar is in Oktober na Wuhan verplaas.
"Ek het as 'n Engels-onderwyser in 'n kleuterskool gewerk waar ek klas gee vir drie- en vyfjariges, wat ek baie geniet het."
Vandat die stad afgesluit is, is hy alleen in sy woonstel op die 24ste vloer van die gebou waar hy woon in die Wuchang-distrik. "Dit is redelik frustrerend om heeldag en aldag in die huis te wees. Daar is geen manier om te weet wanneer die skole gaan heropen nie en ek kan nie sit en deur my geld brand terwyl ek nie werk nie. Dis hoekom ek besluit het om saam met die ander uit te kom."
Hy bly ingelig deur middel van twee WeChat-groepe, een met al die Suid-Afrikaners in Wuhan, en die ander een met almal wat ontruim gaan word. "Ons hou mekaar op hoogte soos wat ons enige inligting ontvang en is ook almal in kontak met die DA-verteenwoordiger in Shanghai. Sy is 'n groot hulp."
'n Datum vir die ontruiming is nog nie bekend nie, maar hulle verwag dat dit binne die volgende paar dae gaan gebeur. Rossouw het reeds met die bestuur van sy gebou gereël vir vervoer na die lughawe wanneer hy moet vertrek. "Wanneer ons die gebou verlaat, sal ons maskers aanhê en die bestuurder sal ook beskerm wees teen die virus vir die reis na die lughawe."
Hulle is nog nie ingelig oor waar in Suid-Afrika hulle in kwarantyn gaan wees nie.
Vryheid van beweging al meer ingeperk
Sedert die uitbreking van die coronavirus het die maatreëls rondom vryheid van beweging in Wuhan al hoe strenger geraak. Aanvanklik is mense toegelaat om self uit te gaan om te gaan kos koop in 'n nabygeleë supermark wat oop.
In die laaste paar weke mag niemand meer uitgegaan het nie. "Die meeste inwoners het benodigdhede oor die internet bestel sodat dit afgelewer kon word. Nou moet jy na die bestuur van die gebou waar jy woon gaan en hulle kry dan mense wat die produkte gaan kry wat jy benodig. Dit begin moeilik raak om sekere produkte in die hande te kry."
Die skole in Wuhan is nog gesluit en daar is onsekerheid oor wanneer presies dit gaan heropen. "Ek is dus nie seker van wat met my werk gaan gebeur nie en ek beplan nie om binnekort na China terug te keer nie."
Oud-Kwagga
Rossouw is 'n oud-Kwagga wat in 2013 gematrikuleer het. Hy het verlede jaar sy BCom-graad aan die NMU George-kampus verwerf. Voordat hy China toe is, het hy vir drie jaar as 'n bestuurder by ‘n superette in Wilderness gewerk.
Hy is reeds ingeskryf vir twee programme by Unisa: 'n nagraadse sertifikaat in opvoeding en 'n honneurs in ekonomie, maar sy einddoel is om sy MBA te verwerf.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'