GEORGE NUUS - 'n Rustige wandeling op 15 April in 'n woonbuurt in Khartoem, Sudan, het vir Georgiet Jacques Bussack ontaard in 'n vlug te voet met net die klere aan sy lyf.
Bussack, wat skoolgegee het aan die Noval International School, was een van die Suid-Afrikaners wat uit Sudan ontruim is ná gevegte tussen rebellemagte en die Sudanese regering uitgebreek het.
Sy kontrak by die skool, waar hy in Augustus 2022 begin het, verval in Mei.
Hy was op die dag toe die konflik uitgebreek het, ongeveer 100 meter van sy woonstel af, toe geweerskote en ontploffings skielik begin losbars. Daar was 'n skermutseling tussen soldate van die weermag en rebelle in 'n straat digby sy woonstel.
Dit was oomblikke van onbeskryflike skok en ongeloof toe hy besef het hy kan nie na sy woonstel teruggaan nie uit vrees dat hy in die kruisvuur kon beland. Om hom het mense oral begin hardloop.
"Ek het niks by my gehad nie. Al my besittings, ook my foon en beursie, was in my woonstel. Ek het besluit ek moet so gou moontlik wegkom van die skietery af en het in 'n rigting begin hardloop. Op 'n stadium het ek gaan stilstaan en gedink dat die skietery dalk van korte duur sou wees en dat ek dalk dan kan teruggaan. Maar toe 'n huis so 40 meter van my af getref word en die bakstene spat, het ek verder gehardloop."
Hy het by twee Suid-Sudanese jongmans aangesluit wat ook op vlug was, want hy was nie vertroud met Khartoem nie. Saam met hulle is hy uiteindelik per bus na 'n klein nedersetting, Mayo, 'n ent buite Khartoem waar die mans se familie gewoon het. Daar is Bussack vir vier dae gehuisves en kon hy kontak maak met sy ouers.
"Ek het die heeltyd gebid vir leiding, krag en kalmte. Als was so onseker. My pa (Bernard) het gelukkig afskrifte van al my reisdokumente gehad en kon dit na die ambassade en departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) stuur. My pa kon ook vir my inligting stuur oor die ontruiming van Suid-Afrikaners."
Toe die nuus deurkom dat daar busse vir vlugtelinge van 'n sekere punt in Khartoem af na Egipte sou vertrek, het sy twee Sudanese weldoeners hom per taxi vergesel na die vertrekpunt tydens 'n senutergende reis met voortdurende skote en ontploffings in hulle ore.
Hy het boonop die bus verpas, maar by die vertrekpunt het hy vir Riaan Jonker en Knox Nokhele, twee ingenieurs van CEM Air van Suid-Afrika ontmoet, wat hulle oor hom ontferm het. Jonker het vir hom vars klere gegee. Deur CEM Air se kantoor in Suid-Afrika, kon Jonker inligting kry oor verdere busse vir vlugtelinge en die drie van hulle het die volgende oggend na Port Sudan vertrek vanwaar hulle per skip oor die Rooisee na Saoedi-Arabië sou vaar.
Die reis deur padblokkades waar agterdogtige soldate inspeksies op die bus gedoen het, was uiters spanningsvol.
Jacques veilig tuis by sy ouerhuis in George. Sy ma Ernesty en pa Bernard het 'n spanningsvolle tyd beleef terwyl hy uit Khartoem moes vlug. Foto: Alida de Beer
By die hawe was daar 'n warboel van mense van verskeie ander lande wat almal ontruim moes word. Drie dae later het hulle die nodige dokumentasie gehad om aan boord van die Saoedi-oorlogskip te gaan waarmee hulle sou vaar.
Van Jeddah in Saoedi-Arabië, het hulle via Dubai huis toe gevlieg. Bussack se herontmoeting met sy ouers in George was 'n baie emosionele oomblik. Sy ma, Ernesty, raak bewoë wanneer sy vertel hoe hulle slapeloos by die telefoon gewaak het terwyl hulle seun aan die vlug was.
CEM Air het vir al Bussack se vlugte terug betaal. "Ek is so dankbaar teenoor almal wat gehelp het om ons veilige terugkeer te bewerkstellig - Riaan en Knox, asook Miles van der Molen, Iain Findlay, Alwyn Meyer en Noni Matebula van CEM Air, die twee Sudanese mans en hul familie, my ouers, Dirco, en die Suid-Afrikaanse ambassade in Khartoem en Saoedi. Dit sal my altyd bybly. Aan Mario Ferreira van Gift of the Givers ook dankie vir sy huidige ondersteuning. Alle eer aan die Here."
Jacques Bussack se ma, Ernesty, in trane met sy aankoms by die George-lughawe.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’