GEORGE NUUS - Die gewilde Afrikaanse sanger en TV-aanbieder Jak de Priester het gesorg dat Laerskool Mountview se vrouetee op Saterdagoggend, 25 Maart, 'n besondere belewenis was.
De Priester het ‘n gawe om met woorde te toor en met sy fyn sin vir humor het hy gesorg vir 'n oggend met vermaak uit die boonste rakke. Die gasvroue het uit hul pad gegaan om hul tafels op kreatiewe maniere pragtig te tooi.
De Priester is na aanleiding van sy suksesvolle televisieprogram, Koppieteefontein op die kykNET-kanaal, landwyd op soek na ‘n besonderse teepot en daar was gewis ook ‘n paar mooies in George.
Die RSG-projek, Red ’n Plaas, lê ook na aan sy hart en hy gaan meedoen aan 'n 166 km-staptog ten bate van die projek.
De Priester en nog 'n paar bekendes gaan van 14 tot 22 April stap saam met 105 RSG-luisteraars van Williston tot by Verneukpan.
Radio-aanbieder Amore Bekker, aktrise Lindie Stander, sanger Elvis Blue en skrywer en joernalis Johannes de Villiers is onder die stappers.
Die doel van die projek is om humanitêre hulp aan plaasgemeenskappe te bied na die jare lange droogte in die Noord-Kaap en omliggende gebiede.
Die droogte is steeds ‘n werklikheid wat baie van die land se plaasgemeenskappe raak.
In 'n vrolike luim, Jak de Priester saam met gaste by Laerskool Mountview se tee.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’