GEORGE NUUS - Die George junior stadsraad het Saterdag hul eerste projek vir die jaar gedoen. Die junior stadsraadslede tesame met die Garden Route se uitvoerende burgemeester, Memory Booysen, het by die Shofar kerk bymekaargekom.
Hier is donasies wat die leerders van die huis gebring het oorhandig aan Love George oorhandig. Die organisasie help en ondersteun waar hulp nodig is.
Hulle maak seker dat die klere, skoene, speelgoed, komberse en selfs Bybels en ou tydskrifte aan families oorhandig word wat dit nodig het.
Booysen het eers gesels oor wat dit beteken om so 'n belangrike rol te vervul, en dat dit nie sonder God se genade gedoen kan word nie.
Herman Pienaar van Love George het ook kortliks gesels oor die video wat hy saam met pastoor Jannie Horne gemaak het oor hul uitreikingspogings gedurende grendeltyd.
Hier by Shofar kerk, waar Love George gedurende grendeltyd kon werk asook donasies versprei het, is die eerste Josephs Stoorkamer. Die 'stoorkamer' sal vorentoe gebruik word om kos te verpak en ook te versprei na families in en rondom George wat in nood is.
Herman Pieters van Love George Saterdag by die Shofar kerk waar die junior stadsraad donasies oorhandig het.
Die leerders het ook elk 'n geleentheid gekry om 'n sakkie kos te pak wat ses mense kan voed.
Inilé du Toit, die junior burgemeester, sê hulle het tuis gesit en besef dat hulle vir die jaar nog niks gedoen het nie. Die projek is aan die res van die lede voorgestel en almal het ingestem, verduidelik sy. Du Toit sê as gevolg van Covid-19 en die grendeltyd was hul hande basies afgekap en het hulle baie nutteloos gevoel. “Ons het ook besef dat van ons wat in gr. 11 is, nog net 'n paar maande oor het as deel van die stadsraad en dis min tyd om 'n verskil te maak.”
Lede van die junior stadsraad help om kospakkies op te maak.
Haydin Wentzel (munisipale bestuurder), Inilé du Toit (burgemeester) raadslid Memory Booysen, Jalaser Bosman (spreker) en raadslid Lize Stroebel wie hul koördineerder is. Hulle het Saterdag by die Shofar kerk bymekaar gekom waar hulle donasies oorhandig het.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'