GEORGE NUUS - As Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, sy sin kry, sal George-munisipaliteit onder 'n vorm van administrasie geplaas word. Dit het aan die lig gekom tydens 'n geleentheid verlede Donderdag by Fancourt wat deur verskeie sakeleiers en belanghebbendes bygewoon is.
Onder hulle was Charlotte Clarke, George se onderburgemeester, en Gerrit Pretorius, speaker van die raad.
Bredell was 'n spreker by die sakegeleentheid wat onder die vaandel van die George-sakekamer gehou is. Sou administrasie of 'n vorm daarvan ingestel word, sal dit beteken dat 'n spesifieke persoon, of 'n span kundiges, verantwoordelik is vir die dag-tot-dag bestuur van George.
Tydens vraetyd het Bredell nie weggeskram om vrae te antwoord nie en in antwoord op 'n vraag van die George Herald oor moontlike administrasie, het hy gesê hy dink dit sal goed wees om 'n ernstige gesprek met stadsraadslede daaroor te hê.
Volgens Bredell is daar met gewone administrasie 'n lang regsproses en hy is ten gunste van 'n ander vorm van administrasie. "George het hulp nodig. Hoe gouer hoe beter."
Servaas de Kock (links) direkteur verkope en bemarking Group Editors, Julinda Aucamp, bestuurder verkope Group Editors en dr. Dennis Farrell. voorsitter van die George-sakekamer. Foto: Eugene Gunning
Na afloop van die geleentheid het hy aan die George Herald gesê die Valke se verslag is aan die Nasionale Vervolgingsgesag oorhandig. Dit is al 18 maande. Die provinsie se forensiese afdeling het ook 'n ondersoek gedoen. "Die probleem wat ek het, is om te kyk hoe funksioneer George. Daar is goeie goed wat in George gebeur."
George is wel nie op die vlak waar hy dit sal wil sien nie. "Daar is onstuimigheid in sy bestuur en dit moet uitgesorteer word." Daar is moontlikhede soos om 'n span kundiges in te stuur. 'n Administrateur alleen kan niks doen nie. "Dit moet 'n span mense wees."
As die raad daartoe instem, kan 'n span gestuur word. "Dan kan ons regruk wat verkeerd is en kalmte kry."
As die inligting wat uit die forensiese ondersoek kom wys administrasie is nodig, sal so 'n voorstel gemaak word en die nodige prosesse volg.
Bredell het Dinsdag tydens 'n telefoniese onderhoud benadruk dit is sy persoonlike standpunt. Administrasie is die laaste uitweg. Hy soek na wyses om die probleme op te los. Een is om 'n span te stuur wat fokus op die uitvoerende magte van die munisipaliteit. Hy het herhaal dat geen besluit nog geneem is nie en daar is bepaalde prosesse wat gevolg moet word.
Bredell sê hy wil sien dat dinge in George weer op koers kom en enige besluit wat geneem word, sal in oorleg met die stadsraadslede geneem word.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'