GEORGE NUUS - Help George om ‘n finalis te word in die Kwêla dorp van die jaar-kompetisie. Jy kan nog tot 12:00 môre (Vrydag 14 Feb) stem vir jou dorp.
Lesers kan vir enige dorp in Suid-Afrika of Namibië stem. Om ’n dorp te benoem, moet die naam van die dorp na 33157 ge-SMS word.
Dié nommer is toeganklik vir selfoonnetwerke in Suid-Afrika en Namibië. Deelnemers hoef nie op ’n dorp te woon om dit te benoem nie.
2020 se Dorp van die Jaar wen R1 miljoen in bemarkingswaarde van kykNET, en ’n 45 sekonde advertensie oor die dorp. Die KIA-makietie sal ook op die wendorp aangebied word.
Die vyf dorpe per streek met die meeste benoemings word aan die beoordelaars, wat uit verteenwoordigers van Kwêla en kykNET saamgestel is, voorgelê. Die beoordelaars kies dan drie uit die vyf dorpe met die meeste benoemings per streek vir die halfeindronde van die kompetisie.
In die eindronde kry die publiek die geleentheid om deur hulle SMS’e die streekwenners te bepaal.
Die sluitingsdatum vir elke streek sal op Kwêla bekend gemaak word en die dorp met die meeste stemme dring deur na die eindronde. Wanneer elke streek se wendorp bekend gemaak is, kry kykers die geleentheid om in die eindronde vir die Dorp van die Jaar te stem.
Aan die einde van die eindronde sal die dorp met die meeste stemme as Kwêla se Dorp van die Jaar aangekondig word. Die sluitingsdatum vir die eindronde is Vrydag 29 Mei om 12:00.
‘n SMS kos R1.50. Gratis SMS’e geld nie en foutiewe SMS’e sal ook verreken word.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'