GEORGE NUUS - Suid-Afrikaners sien die pragtige George en Tuinroete as die ideale plek om nes te skrop. Verskeie belanghebbendes bevestig dat meer mense die afgelope tyd na die gebied verhuis.
Veiligheid is 'n groot trekpleister en ingeligtes sê die Tuinroete kan verdere groei sien gegewe die jongste vlaag van geweld in ander dele van die land.
Tim Kirby, prinsipaal van Lew Geffen Sotheby's International Realty George, sê mense van Gauteng en ook ander provinsies wou nog altyd na die gebied kom.
Hy is meer as 30 jaar in die eiendomsbedryf. Die probleem vir hulle was om 'n ekonomiese volhoubare lewe hier te voer.
Sedert die streng inperking in Junie verlede jaar klaargemaak het, het mense besef hulle kan oor 'n afstand van hul huise werk. Wat in George se guns tel is goeie skole, infrastruktuur en die munisipaliteit wat goeie dienste lewer.
Dis nie net George wat voordeel trek nie, maar die hele Tuinroete, insluitend Plettenbergbaai en Knysna.
In die verlede het mense eers kort voor hul aftrede hierheen verhuis, nou is dit ook mense in hul 30's en 40's. Eiendomspryse het gestyg en daar is druk op die bestaande aanbod.
Tim Kirby
Dr. Willie Cilliers, voorsitter van die AHI Wes-Kaap en ondervoorsitter van die George-sakekamer, sê daar is nou ook 'n nuwe groep mense wat ekonomies aktief is wat na die gebied kom.
Hulle trek hierheen met hul families onder meer as gevolg van veiligheidsoorwegings. Daar is 'n groot vraag na nuwe huise en huureiendom. Die nuwe tendense word bevestig deur terugvoer van AHI-lede.
Die toeloop het 'n impak op die padnetwerk en dit raak moeilik vir ouers om hul kinders in skole te kry, maar dit het wel 'n positiewe impak op die ekonomie. Die toename in jonger mense bring nuwe innovasie en denke.
Willie Cilliers
Vanie Oosthuizen, eienaar van Albertinia Meubel-vervoer, sê per week vervoer sy maatskappy alleen tussen agt tot 12 gesinne se besittings na die gebied tussen Plettenbergbaai en Hermanus.
Die mense kom hoofsaaklik van Gauteng en Mpumalanga en dit gaan al die afgelope twee jaar so.
Die redes om hierheen te kom is goeie lewenskwaliteit, dienslewering is nog in plek en veiligheid is relatief goed.
Iets wat hom opval is stoorplek wat 'n uitdaging word.
Vanie Oosthuizen
Wat sê die burgemeester?
George-burgemeester, Leon van Wyk, sê dis moeilik om presiese syfers te verskaf, maar die afgelope paar jaar is daar wel meer mense wat na George kom.
As hy rondry kyk hy na die voertuie se registrasies. Net die afgelope Saterdag het hy voertuie van al agt die ander provinsies gesien en selfs van Botswana.
Nie net Suid-Afrikaners nie, maar selfs Europeërs koop plaaslik. Die afgelope weke het hy gesprekke gehad met verteen-woordigers van maatskappye wat in George wil vestig. Faktore wat daartoe bydra is effektiewe dienslewering en 'n openbare busdiens.
Die leefstyl en die min verkeer in vergelyking met ander plekke, lok ook mense.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'