GEORGE NUUS - Die polisie het die afgelope week die gemeenskap van Jeffreysbaai bedank wat gehelp het om die 22-jarige voortvlugtende verdagte, Francois Stander, vas te keer. Stander het onder raaiselagtige omstandighede op Dinsdag 18 Augustus kort voor 'n hofverskyning by die Groot-Brakrivier-landdroshof ontsnap. Hy was glo uit aanhouding onderweg na die hofgebou toe hy weggehardloop het.
'n Soektog is na Stander begin en die polisie het foto's van hom deur middel van die media versprei.
Hy was kort na sy verdwyning laas in die Bergsig-omgewing op Groot-Brak gesien.
Op Saterdag 22 Augustus het 'n inwoner van Jeffreysbaai, Stander op die dorp gesien. Groot-Brakrivier-polisie se kommunikasiebeampte, sers. Laurianne Botha, sê danksy op en wakker gemeenskapslede wat die nuus op sosiale media gevolg het, het 'n getuie die polisie op Jeffreysbaai gekontak.
Hulle het na die gebied gegaan waar Stander gesien is en hy is daar in hegtenis geneem.
Op Maandag 24 Augustus het Stander in die Mosselbaai-landdroshof verskyn op aanklag van diefstal.
Hy bly in aanhouding en sal ook vervolg word vir sy ontsnapping. Volgens die polisie het Stander ook nie 'n vaste woonadres nie.
"Ons bedank die media en die gemeenskap wat ons hiermee gehelp het," sê Botha.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'