George-stadsraad se uitvoerende burgemeester, Charles Standers, en die raad se hoofsweep, Flip de Swardt, het tydens ‘n perskonferensie gesê die beskadiging van raadseiendom het problematies geraak. "As deel van die bekamping van vandalisme, moet ons noodgewonge die fonteine by Eenheidspark en Standard Bank toegooi en afbreek," het De Swardt gesê.
Burgemeester Standers het die stap as noodsaaklik, maar tog baie hartseer beskryf. "Dit is iets moois vir die dorp, maar ons kan nie anders nie, aangesien vandale dit voortdurend beskadig teen geweldige onkostes vir die munisipaliteit," het Standers gesê.
Standers het ‘n beroep op Georgiete gedoen om saam te staan om die stryd teen vandalisme te wen. Hy het egter die versekering gegee dat die munisipaliteit se prioriteit is om George te verfraai.
"Ons moet egter die beveiliging van George, in belang van die gemeenskap, ook as prioriteit beskou."
Volgens ‘n verslag aan die raad, beloop die skade aan die vier fonteine in George, ongeveer R120 000. Die verslag verduidelik ook dat daar nie vir die uitgawe begroot is nie en dat slegs die fontein voor die munisipaliteit in ‘n werkende toestand is.
Die verslag aan die raad lees: "By Eenheidspark is al die spuitkoppe en die pomp van die fontein gesteel. Die deur is afgebreek en die toegang word as toilet gebruik. By Standard Bank is die ogiesdraad bo die fontein se klippe, losgebreek. Kledingstukke en ander rommel word daarin gedruk. Die fontein lek ook water rondom feitlik die hele basis."
Dit sal ongeveer R8000 kos om die twee fonteine af te breek en toe te gooi.
.jpg)
ARTIKEL: CHRISTO VERMAAK, GEORGE HERALD-JOERNALIS