GEORGE NUUS - Daar is 'n familietwis in die drie-party koalisie wat in beheer van die George-stadsraad is. Die DA, die VF Plus en die ACDP regeer saam die stad, maar is op die oomblik in onstuimige waters.
Die jongste twis het ontstaan nadat Leon van Wyk, die burgemeester en DA-lid, 'n plasing op Facebook gemaak het oor die jongste elektrisiteitsituasie.
Hy skryf onder meer dat hy as DA-burgemeester sorg dat die munisipaliteit stappe neem om die ligte aan te hou en inwoners te beskerm teen die impak van beurtkrag.
Gert van Niekerk van die VF Plus het daarteen beswaar gemaak en op Facebook geskryf dat die munisipaliteit deur 'n koalisie tussen die VF Plus, die ACDP en natuurlik die "arrogante" DA bestuur word.
"Hierdie koalisie-ooreenkoms bepaal uitdruklik dat geen party eensydige eienaarskap daaroor sal toeëien nie. Bostaande is 'n bewys van die erns waarmee die arrogante DA hierdie koalisie-ooreenkoms bejeën.
"Hul respek teenoor mede-koalisiepartye en verbintenis om geskrewe ooreenkomste te eerbiedig laat veel te wense oor. Geen wonder dat hulle die inwoners van Gauteng versaak het en die metro aan die ANC op 'n skinkbord gegee het nie. Is George dalk volgende?," het Van Niekerk geskryf.
Van Wyk het by navraag aan George Herald gesê hy is 'n tyd gelede deur die party gevra om hul suksesse aan die leierskap te verskaf. Die DA se hoofkantoor het die plasing gemaak.
George wil hoop vir mense gee en leidrade aan ander munisipaliteit verskaf hoe die situasie benader kan word. "Ons moet pro-aktief wees. Dit gaan nie oor 'n party politieke agenda nie. Die oplossing is vir al die inwoners en sakeondernemings," het Van Wyk gesê.
Wat Van Wyk betref raak dit nie samewerking nie en die koalisie gaan voort. Die VF Plus en ACDP is ook deel van die viering van die suksesse.
Van Niekerk het gister (Woensdag) gesê, "Dis nie die eerste keer dat dit gebeur nie. Die ooreenkoms bepaal dat al die partye gelyke regte het." Hy is reeds besig om die aangeleentheid verder te neem.
"Sonder die hulp van die VF Plus en die ACDP kan die DA nie regeer nie."
Johan du Toit van die ACDP het gesê aan die begin het die ooreenkoms goed gewerk. Dit het egter later begin verander. "In die laaste tyd het die DA sy hand begin oorspeel. Dit gaan vir hulle om hul eie belange te bevorder. Die koalisie bestaan uit drie partye." Ook hy is besig om die saak verder te neem.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'