Gallery Update Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Kersliggies en Emo Adams. Dié kombinasie het Saterdagaand tydens die jaarlikse Liggiefees groot vreugde vir duisende mense in die middedorp gebring. Met die druk van 'n knoppie het Melvin Naik, George-burgemeester, kort na 20:00 die middedorp by Eenheidspark in 'n sprokieswêreld omskep.
Reeds van vroeg Saterdagmiddag het inwoners en besoekers na die middedorp gestroom en tussen stalletjies langs Yorkstraat rondgestap. 'n Karnavalatmosfeer het geheers en sover bekend het geen ernstige voorvalle van misdaad voorgekom nie.
In 'n stadium het twee mans wel in 'n woordewisseling betrokke geraak en met mekaar begin stoei. Wetstoepassingsbeamptes was vinnig op die toneel en het die twee mans gekalmeer.
Tydens die geleentheid is ook verjaarsdagpartytjie gehou om die vierjarige bestaan van die GO GEORGE-busdiens te vier. James Robb, GO GEORGE-bestuurder, het aan die George Herald gesê daar was baie uitdagings die afgelope vier jaar. Fase 4, 5 en 6 van die busdiens wag en dit moet ingestel word.
Verskeie kunstenaars het tussendeur aanwesiges vermaak. Die Uniondale Rieldansers het al die pad van Uniondale gekom en aanwesiges se voete laat jeuk. Mense wou net saam met hulle dans.
Die Diversity Dance Crew van Pacaltsdorp het die mense na hul asems laat snak met hulle moeilike danspassies.
Sean Snyman, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskaps- en maatskaplike ontwik-keling, biblioteke en sport, het gesê dit is belangrik dat mense saamkom. Die feit dat dit by Eenheidspark gebeur, maak dit meer relevant.
Onder die aanwesiges was Aiden Roelfse (8). Hy kon nie wag om sy pa, Adam Roelfse van die munisipaliteit se Anti Land Invasion-eenheid (beskermingsdienste) te sien nie. Adam het diens gedoen by die geleentheid en sy familie het saam kom fees vier.
Melvin Naik, George-burgemeester en sy eggenoot, Edwina kort voor die aanskakel van die liggies, Foto: Eugene Gunning
Renata en Dewald Senekal het hul Jack Russell, Kiekie saamgebring. "Kiekie gaan oral saam. Sy is my babatjie," het Renata vertel.
Die 6-jarige Skylah Jacobs het tot groot vermaak van haar maatjies, borrels geblaas met 'n speelding.
Hoe nader 20:00 gekom het, hoe meer opgewonde het die skare geraak.
Naik het 'n paar minute voor 20:00 aan die woord gekom.
Hy het besoekers en inwoners verwelkom en George beskryf as 'n stad wat bekend is vir sy vriendelikheid en sy natuurlike skoonheid.
Hy het gesê die Liggiefees is een van die hoogtepunte op die sosiale kalender. Dit is 'n geleentheid om terug te kyk op die afgelope jaar en 'n tyd om saam met familie en vriende deur te bring. Hy het simpatie betuig met familie wat vanjaar geliefdes aan die dood afgestaan het. Uitdagings in 2018 kon word met die genade van God oorkom word.
Die man het 'n taxidiens adverteer tydens die Liggiefees.
Volgens Naik bly van die grootste uitdagings die hoë werkloosheidsyfer en armoede. Mense moet nie hoop verloor nie. Daar is ook misdaad en mense moet saamwerk met wetstoepassingsinstansies.
Nadat die liggies aangeskakel is, wou die skare weet waar is Emo. Eers was sy orkes op die verhoog en toe het Emo verskyn.
Kyk video's hieronder:
Emo, een van Suid-Afrika se bekendste kunstenaars, het mense nie teleurgestel nie. Hulle het saamgesels terwyl Emo vir 'n uur lank gesing, grappies vertel en danspassies, uitgevoer het.
In een stadium het hy nader aan die skare beweeg en mense het hom luid toegejuig. Hy het ook sy selfoon uitgehaal en mense afgeneem. Na die vertoning wou talle mense saam met hom afgeneem word.
Hy het aan die George Herald gesê die stad het baie mooi mense. Hy het George bedank dat hulle hom en sy orkes genooi het.
Emo Adams het die skare rasend gehad met sy danspasssies. Foto: Eugene Gunning
Lees vorige arikels hier:
- Live music drawing a crowd
- Preparations underway for the Lights Festival
- Something new for the Lights Festival
- Festival fun: Fun for the little ones
- Switch the lights on Emo-style
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'