GEORGE NUUS - Emmaüs-werksentrum het groot finansiële verliese gely weens die Covid-19-inperkings.
Die sentrumhoof, Elsabe Badenhorst, sê hulle het 'n groot verlies aan inkomste gehad omdat geldinsamelings nie kon realiseer nie en die vergaderings en groepe wat gereeld van hul fasiliteite gebruik gemaak het, kon nie bymekaarkom nie.
Tydens die pandemie is die sentrum se subsidie ook twee keer gesny.
Met die vloede in November het nog 'n slag hulle getref toe groot waterskade aangerig is. "Herstelwerk aan die gebou is tans aan die gang. As ons nie versekering gehad het nie, weet ek nie wat ons sou gedoen het nie."
Daar is baie noodsaaklike uitgawes soos onderhoud en versekering waarop nie gesny kan word nie, dit maak dit 'n uitdaging om die begroting te laat klop, maar Badenhorst sê hulle begin nou weer herstel. Dagwerkers is weer terug by die sentrum en aktiwiteite is in volle gang.
2 winkels is oop
Die publiek word genooi om die Emmaüs-winkel te besoek waar besondere houtwerk en handwerk te koop is wat deur die werkers vervaardig word. Die winkel is daagliks in die week oop.
Daar is ook 'n tweedehandseklerewinkel wat Dinsdae en Woensdae oop is en goeie winskopies bied.
Emmaüs se winkel bied 'n verskeidenheid van hand- en houtwerkitems. Dit is op weeksdae oop.
Nuwe idees, geriefskosse en afval
"Verskeie nuwe idees word in die werkswinkels uitgetoets, en die publiek is welkom om die sentrum te besoek om te kom kyk wat gedoen word," sê Badenhorst.
Die Emmaüs-kombuis het begin met die maak van kosse soos sop, bobotie en lasagne, asook kaasskons wat alles gevries kan word. Die maandelikse manne-afvalaand wat weens Covid 'n deurry-afvalaand geword het, is tans oopgestel vir mans en vroue. Dit word die eerste Dinsdagaand van die maand gehou.
Emmaüs het ook 'n koekiedeegprojek waar die publiek 1 kg gevriesde deeg vir R60 kan koop. "Dit kan ontvries en weer gevries word sonder enige skade, en die koekies is heerlik," sê Badenhorst.
Verskillende tipes koekiedeeg is beskikbaar.
Dankie vir publiek wat woeker
Die sentrum is dankbaar vir pogings van lede van die publiek wat ten bate van Emmaüs woeker, soos 'n leerder van Glenwood College, Michael Melville wat uit eie inisiatief mansklere vir die sentrum ingesamel het, en BMW se personeel wat 'n blikkieskos-insameling gehou en die kos saam met kontant geskenk het.
PKF het ook 'n groot geldinsameling op Mandeladag gehou waar hulle in spanne meegeding het om Emmaüs-produkte te verkoop. "Dit het 'n mooi bedrag ingebring. Ons is baie opgewonde en dankbaar oor al hierdie inisiatiewe," sê Badenhorst.
Kersmark in Desember
Die sentrum se gewilde jaarlikse Kersmark word vanjaar op 3 Desember gehou. 'n Baie groot fees word beplan met al die gebruiklike items wat die mark uniek maak weer op die tafels - vleis, groente, poeding en die baie interessante handwerk en houtwerk.
Badenhorst doen 'n beroep op die publiek se ondersteuning en sê enigiets is welkom. "Elke klein dingetjie help."
Persone wat wil help met geldinsameling of donasies kan gee, kan die sentrum bel by 044 873 4196.
Die tweedehandseklerewinkel.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'