GEORGE NUUS - George se eie vrou met die goue stem, Elrine Lottino, het besluit om terug te keer na haar Afrikaanse wortels en het onlangs haar eerste enkelsnit, By die Huis, vrygestel.
Dié snit is reeds beskikbaar op alle digitale platforms, en die video ook nou op YouTube by https://youtu.be/lvwP10xUu5M.
Lottino is 'n Suid-Afrikaanse musikant en musiekopvoeder. Sy is 'n kreatiewe persoon wat vir alles outentiek en sielvol lief is. In haar hart is sy 'n jazzsanger en liedjieskrywer, maar ook 'n lewenslange musiekstudent.
By Die Huis is 'n splinternuwe enkelsnit, wat wag om in die harte van Afrikaanse musiekliefhebbers in te kruip.
Tydens die Covid-19-pandemie, herontdek Lottino haar passie vir sing en liedjies skryf in haar moedertaal.
"Ek het teruggekeer na die plek waar alles vir my as musikant begin het en my kreatiwiteit en passie vir sing en liedjies skryf herontdek. Dit voel of ek nou vir die eerste keer in ‘n lang tyd weer op 'n goeie plek is om musiek te maak," sê sy.
Die snit is geskryf deur Lottino en vervaardig deur Johan Rautenbach.
"Elrine is een van die mees talentvolle sangers en liedjieskrywers wat ek ken. Dit was vir my 'n groot voorreg om deel te wees van hierdie liedjie as vervaardiger. Ek dink dis een van die mooiste Afrikaanse liedere wat ek in 'n lang tyd gehoor het en ek is opgewonde vir Elrine dat sy die kommersiële mark betree op so 'n hoë standard,” sê Rautenbach.
Lottino se musiekvideo is ook gekies as een van Ontbytsake se finaliste vir hul Onafhanklike kunstenaars liedjieskryfkompetisie by die OppiPanne-musiekfees in Botswana op 1 Oktober.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'