OUDTSHOORN NUUS - Die borgtogaansoek van die 11 verdagtes wat die afgelope naweek vir ondermeer bedrog in hegtenis geneem is sal môre (Vrydag, 25 Februarie) in die Oudtshoorn-landdroshof begin.
Die verdagtes is tydens 'n gesamentlike operasie tussen die polisie, die kuber-misdaadeenheid, misdaadintelligensie, die Valke en die department van vervoer gearresteer. Hulle is almal tussen 34 en 61 jaar oud.
Noloyizo Tose, Thabo Mgaba, Sandile Johnson, Ingrid Wagenaar, Ivan Human, Warren Coetzee, Yolande Stalmeester, Phumezo Tshomiso, Samuel van Hansen, Promises Sovasi en Xolile Gaya staan tereg op klagtes van bedrog, korrupsie, geldwassery en die verbreking van die padverkeerswet.
Van die verdagtes is beamptes by die verkeersdepartement terwyl die ander betrokke is by 'n plaaslike bestuurskool. Stalmeester is oudburgemeester, Gordon April, se dogter.
Hulle het Maandag hul eerste verskyning in 'n stampvol hof gehad. Landdros Graehymme J. Williams wou nie die hofverrigtinge begin voor die mense in die galery nie minder gemaak word nie.
Familie en vriende was ongelukkig oor dié reëling en wou aanvanklik nie die hof verlaat het nie. Hofordonnanse het egter gesê dat een familielid per aangeklaagde toegelaat word.
Die verdagtes het Maandag hul eerste verskyning gehad. Die sake is Maandag na Dinsdag toe gerol sodat al die beskuldigdes voldoende regsverteenwoordiging kan kry.
Volgens kaptein Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, word daar beweer dat die verdagtes deel vorm van 'n georganiseerde sindikaat waar leerlinglisensies en rybewyse aan applikante uitgereik is teen vergoeding en deur van die bestuurskool gebruik te maak.
LEES MEER: Rybewys-11 Vrydag in hof
"Die ondersoekspan het huise van die verdagtes sowel as die verkeerskantoor deursoek en die verdagtes is in hegtenis geneem. 'n 14 ton Mercedes-vragmotor, 'n motor, selfone en kontant wat in die beweerde misdryf gebruik is, is gekonfiskeer."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'