IN GESPREK MET REDAKTEUR, LIZETTE DA SILVA - As misdaadverslaggewer het kindermoorde en misdaad teen kinders my altyd die meeste geraak. Die wreedheid waarmee jong lewens beëindig word, laat my met 'n yskoue gevoel om die hart en ek huil saam met die slagoffers se families wat ek nie eens ken nie.
Ek is so jammer vir julle verlies en wens, net soos julle, dat al die hartseer en geweld in ons land end kan kry.
Vandeesweek huil ek oor die negejarige Sadia Sukhraj van Chatsworth, Durban wat Maandagoggend in 'n mislukte motorkaping in haar pa se motor doodgeskiet is.
Dan was daar die twee tienermeisies van Stella in Noordwes, Sharnelle Hough en Marna Engelbrecht, wat verlede naweek in hul koshuis vermoor is.
Die moordverhoor van Courtney Pieters (3) van Elsiesrivier word ook die week in die Kaapse hooggeregshof aangehoor met grusame besonderhede oor hoe die kleuter verkrag en vermoor is.
Hier in George onthou ek vir Nadia Juries van Pacaltsdorp wat ook verkrag en vermoor is. Dit was een van my eerste misdaadstories wat ek as groentjie moes skryf. Daar was ook die vyfjarige Kelly-Ann Buys, ook van Pacaltsdorp, en vele ander oor die byna 15 jaar wat ek misdaadverslaggewing gedoen het. En die laaste, klein Natalie Baartman van Syferfontein in Februarie verlede jaar.
Dit was altyd uiters moeilik om die families van die slagoffers te nader, want hoe vra jy 'n pa of 'n ma om oor hul pyn te praat as alles nog so rou is. En alhoewel dit soms mag lyk asof joernaliste nie 'n hart het nie, glo my, dit is nie die geval nie. Ons huil saam met die families wanneer ons alleen is, of saam met 'n kollega wanneer jy swaar trek aan die seer wat jy moet neerpen.
Oor die jare moes ek twee of drie stories afstaan, want dit het net te veel geraak. Ek mis dit om te skryf, maar hierdie stories mis ek nie vir een oomblik nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'