Video
TUINROETE NUUS EN VIDEO - 'n Egpaar van Danabaai wat gister, 9 Julie in die kettingbotsing op die N2 betrokke was tydens 'n buitengewone stofstorm, sê dat hulle waarlik níks voor hulle in die pad kon sien nie.
Ria en Kobus van der Westhuizen was onderweg na George vir 'n doktersafspraak toe hulle die stofstorm kort voor die afrit na die George-lughawe binnery. Dit was net voor 10:00.
"Ons het spoed verminder, maar binne die storm kon jy werklik niks voor jou sien nie," sê Kobus. Dis tóé dat 'n voertuig van agter af in hulle Ford Kuga-nutsvoertuig vasry. Hierna het nog vyf voertuie inmekaar vasgery. Sewe voertuie in totaal was in die kettingbotsing betrokke.
Ria het 'n stamp teen die kop gekry en haar vinger verstuit. Kobus sê dat hy homself gereed gemaak het vir impak en het daarom genadiglik nie beserings opgedoen nie.
Kyk 'n video hieronder:
Die egpaar het so gou as wat hulle kon uit die voertuig geklim en daarvan wegbeweeg uit vrees vir verder botsings. Hulle het aan die kant van die pad gaan staan. "Ons kon steeds min sien en net die aaklikge geluide hoor. Remme wat skree en dan net die slag soos voertuie teen mekaar bots," vertel Ria. Die sigbaarheid het by tye verbeter en hulle kon die ander voertuie in die botsing sien. "Daar was mense wat uit hulle voertuie probeer klim het, ander het langs voertuie gelê. En die hele tyd was daar die sand en wind."
Kobus sê dat hy nog nooit só 'n sandstorm plaaslik beleef het nie. "Dit sien jy net in die Vrystaat." Hy praat met lof van die mediese personeel, verkeersbeamptes en polisie wat vinnig op die toneel was en die "choas reguleer" het.
Verwante artikel: N2 reopened after accident
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'