TUINROETE | KAROO | HESSEQUA NUUS - Duisende bejaardes is sedert die aanvang van die inperkingstydperk in afsondering in tehuise en versorgingsoorde. Hoe beleef hulle dit?
George
“Buiten geen kontak met enigiemand van buite nie en die dra van maskers, gaan ons inwoners se lewens so normaal as moontlik voort,” sê Alani Voigt, bestuurder van die Tuiniqua-versorgingsoord. “Hulle neem aan aktiwiteite deel en van die omies sny selfs die gras - die grasperke was nog nooit so mooi nie! Hulle werk ook self in die groentetuin en surplus groente word verkoop of uitgedeel.”
Ten einde die inwoners teen besmetting te beskerm, word die personeel aan streng higiëne-maatreëls onderwerp en indien nodig, verlaat van die versorgers nie die oord nie. Geen kontant word in die snoepie of koswinkel, waar personeel ook vars produkte kan koop, gebruik nie. “Die inwoners met demensie kry die swaarste, want hulle verstaan nie wat aangaan nie.”
Isaac Williams, bestuurder van die Rosemoor-tehuis vir bejaardes, sê aanvanklik was die inperking ’n nuutjie, maar mettertyd het dit baie angs en frustrasie meegebring. “Die inwoners het baie vrae oor die aard van die virus. Goed wat hulle op televisie sien het hulle bang gemaak. Om die vrees te besweer gesels die maatskaplike werker met hulle en personeel van die gesondheidsdepartement kom gee gereeld vir hulle lesings” Die inwoners word ook aangemoedig om telefonies kontak met hul geliefdes te hê.
Stilbaai
Huis Alrema versorg 14 Alzheimers-pasiënte. “Ter wille van ons pasiënte se welstand laat ons geen besoekers toe nie,” sê Alma Steyn, bestuurder. “Die pasiënte mis nie soseer hul familie nie, maar hul familie mis hulle. Ons stuur gereeld foto’s om die kinders en kleinkinders op hoogte te hou van hoe dit gaan.” Volgens Steyn hou die personeel streng by veiligheidsmaatreëls, ook wanneer hulle die pasiënte in hul rolstoele vir ’n wandeling op die terrein neem.
Knysna
Hillary Brouwers van die Vermont-sentrum op Knysna sê van die inwoners verstaan nie dat hulle ter wille van hul eie welstand in afsondering is nie, al word hulle elke dag op hoogte gehou van verwikkelinge rondom die virussiekte. Dis ook vir hulle moeilik om maskers te dra. Die personeel se temperatuur word elke dag gemeet en hulle dra maskers en handskoene. Die inwoners word een maal per week ondersoek en hulle ontvang gereeld vitamien-aanvullings.
“Die gemeenskap verstaan nie met watter dilemma ons sit nie. Dit plaas ekstra emosionele druk op ’n mens om heeltyd versigtig te wees om ons inwoners so goed moontlik te beskerm. Dis slegs met liefde en genade dat ons dit kan volhou en ek bedank my personeel vir hul toewyding.”
Mosselbaai
Cornelle Carstens van Mossel Bay Advertiser berig die Hartenbos-versorgingsoord, een van Badisa se dienspunte, het vandeesweek hul inwoners vir die eerste keer buite die tehuis toegelaat. Met die implementering van vlak 4 van die nasionale grendeltyd wat op 1 Mei in werking getree het, het sowat 30 van die inwoners Maandag 4 Mei om 08:00 rondom die tehuis en die aangrensende NG kerkgebou gestap.
“Dit was ’n bevrydende ervaring vir ons mense om na soveel dae binnenshuis weer buite te kan wees,” het Johan Jacobs, bestuurder van die tehuis by navraag gesê. “Die staptog het onder streng toesig plaasgevind en daar was geen kontak met buite mense nie. Ons beplan om dit elke oggend te doen,” het hy bygevoeg. Die gemiddelde ouderdom van inwoners in die tehuis is 86 jaar. Drie van hulle is ouer as 100 jaar.
Inwoners van Hartenbos-versorgingsoord het Maandagoggend vir die eerste keer buite die tehuis gestap. Foto: Cornelle Carstens
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'