GEORGE NUUS - Groot suksesse is verlede naweek deur die plaaslike polisie in George behaal toe verskeie arrestasies in verband met onwettige drankverkope en dwelmhandel gemaak is.
Volgens Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, kan dié suksesse toegeskryf word aan verskeie operasies wat deel vorm van die Safer Festive Season-veldtog.
Op Vrydag 20 November het polisie op twee huise in Klokkiesblomstraat, Pacaltsdorp, toegeslaan. Tydens die eerste voorval is die perseel deursoek en daar is op sowat 400 Mandrax-tablette, met 'n beraamde straatwaarde van R20 000, beslag gelê. "'n 39-jarige vrou is in verband hiermee op 'n aanklag van dwelmhandel in hegtenis geneem," sê Spies.
Kort na dié voorval is 'n jong vrou (19) in hegtenis geneem toe daar sowat 17 gram tik met 'n beraamde straatwaarde van R3 000, asook 'n klein hoeveelheid Mandrax, in haar besit gevind is.
Van die dwelms wat gekonfiskeer is tydens die operasies.
Drankmisbruik
In afsonderlike voorvalle op dieselfde aand is drie verdagtes in Rosedale, Pacaltsdorp en Uniondale tydens verskeie lokvalle in hegtenis geneem. "'n Aansienlike hoeveelheid drank, yskaste en kontant is tydens dié operasies gekonfiskeer," sê Spies.
Tydens nog 'n drankverwante operasie op Vrydagaand het lede van die George-misdaadvoorkomingseenheid op meer as 1 000 liter drank beslag gelê by 'n ongelisensieerde perseel in Wilderness. Die verdagte in hierdie saak moet nog in hegtenis geneem word.
Op Saterdagaand, 21 November, is daar by nog 'n ongelisensieerde perseel in New Dawn Park, Pacaltsdorp, op 107 liter drank beslag gelê.
"Daar is ook op 'n yskas beslag gelê en 'n 61-jarige verdagte is in hegtenis geneem op aanklag van die verkoop van drank sonder 'n dranklisensie," sê Spies.
Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'