GEORGE NUUS - Dele van Meadestraat, wat bekend is vir sy talle hoë bome, het onlangs 'n gedaanteverwisseling ondergaan.
Ter wille van die veiligheid van die publiek is talle van die bome se takke verwyder en in sommige gevalle is dit tot op die grondoppervlak skoongemaak.
Dit het op sosiale media gegons en talle inwoners het vrae gehad nadat die bekende straat nou aansienlik kaler lyk.
Debra Sauer, 'n woordvoerder van die George-munisipaliteit, het by navraag gesê die bome is tans 'n gevaar vir die publiek en grondeienaars as gevolg van die dooie takke, en of sterwende bome wat kan breek of omval.
Die bome word, waar moontlik, veilig gemaak deur drastiese snoeiwerk of deur dit tot op grondoppervlak te verwyder.
Van die bome is besmet met die stompkopkewer. Dit is steeds 'n landwye probleem. Op die vraag of bome op ander plekke in George ook afgesaag word, het sy geantwoord afhangende van die omstandighede en kapasiteit van die afdeling wat daarna omsien, sal dit op meriete van spesifieke omstandighede oorweeg word.
"Die doel is om 'n veilige omgewing te skep, en waar moontlik sal die voortbestaan van die boom eerste geplaas word om die groen eienskap van ons dorp te bewaar. Indringer of eksotiese bome sal geleidelik verwyder word om deur inheemse spesies vervang te word wat die plaaslike inheemse bomeryk weerspieël."
Etienne Cilliers, mede-eienaar van The Branch Manager, het gesê die maatskappy is deur die munisipaliteit genader om te help met die taak.
Altesame 24 eikebome word geraak. Van hulle is al 150 jaar oud. Volgens hom is van die bome besig om dood te gaan en dis gevaarlik. Verskeie faktore is daarvoor verantwoordelik. Die stomkopkewer speel 'n groot rol. Van die bome is baie oud en die grond is gekompakteer.
Die bome se wortels kry nie meer genoeg voedingswaarde uit die grond nie. Van die bome se takke het gebreek en dit het uit 'n veiligheidsoogpunt gevaarlik geraak. As sulke takke op iemand val, kan dit noodlottig wees.
Die maatskappy verwyder self die hout. Volgens hom is die werk redelik moeilik en gevaarlik.
'n Boom in Meadestraat wat afgesaag is. Foto: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'